Nuwejaarsvoornemens is tans ’n gewilde gonswoord op die radio en in ons binnegesprekke.
Ons kon amper normaal Kersseisoen vier. Dit het mense weer positief gestem. Ons voel die afgelope twee grendeljare is verby en ’n beter jaar het aangebreek. Ons kan weer hoop en met ’n verwagting uitsien na ’n nuwe jaar.
Die nuutste neiging is om vir jou net een woord te kies en daarvolgens te leef. Om jou nuwe voornemens op ’n woord te bou. Iets soos orde of waagmoed of veerkragtigheid … Brene Brown, ’n Amerikaanse navorser en gewilde spreker en skrywer, stel konsepte soos kwesbaarheid en leierskap voor. Ja en weliswaar in dieselfde asem!
Kies ’n woord soos aanpasbaarheid en dit sal jou goed te staan kom by die werk, by die huis, met die kinders se voortdurende veranderende skoolroosters sowel as in die raadsaal. Miskien sal ’n woord soos minimalisme alles vereenvoudig en vir jou ruimte koop in jou huis, in jou dagboek én in jou kop. Matigheid en balans kan dalk net die skaal in die regte rigting laat draai en getrouheid en gehoorsaamheid kan berge versit. Geloof en vrede sal jou deur storms dra terwyl hoop en waarheid alle wantroue en kommer met die wind sal wegwaai.
Kies jou taal, want taal is nie net ’n medium vir kommunikasie nie: taal skep ons ervaringe, taal vorm ons emosies. In Narratiewe Terapie word baie klem gelê op die krag van woorde. Taal skep ons realiteit. Ons stories bestaan in taal. Alles wat ons ervaar, beleef ons binne-in ’n taalborrel. Die taal wat ons praat, is die huis waarin ons woon. Daar word ook gesê dat daar in elke suksesvolle huwelik elke dag ses goed is wat ongesê moet bly.
Kies jou taal, want die taal wat jy besig, bepaal jou hele lewe.