Ek dink ek verstaan vir die eerste keer wat my liewe Moeder bedoel het terwyl sy ingehaak langs my in die inkoopsentrum gestap en vir my gesê het: “Ek kan nie byhou nie, loop ’n bietjie stadiger …”
Wanneer ek nadink oor die afgelope twee jaar voel dit asof daar gapings is – gapings van tyd, van gebeure, van onthou. In my omgaan met ander refrein hul dieselfde wanneer dit kom by die kronologiese oordra van insidente. Dit is asof elkeen van ons iets verloor het gedurende die COVID-tydperk.
Ons bevind onsself op die vooraand van ’n Desember-vakansieseisoen. Die somer kondig nie net son, pret in bruisende wit branders, prysverhogings en die koms van vakansiegangers aan nie. Restaurante en gastehuise is besig om die wit damasktafeldoeke en servette te styf, beddens voor te berei met linne wat uitgepak word en vakansiehuise se grasperke en tuine word opgeskerp ter voorbereiding van die gaste wat kom.
Ek kies om nie daaraan te dink dat ek en my peetkind verlede jaar nie “mag” gaan boogyboard ry het op die strand nie. Ek voel nog ’n bietjie ingedoen, maar dis genoeg rede om vanjaar op te maak daarvoor. Die pluspunt van ’n gebeure in die verlede is dat daar ’n groter bewustheid is vir dít wat ons met groot dankbaarheid moet vul en dít wat as vanselfsprekend aanvaar word.
Kom ons kies vanjaar om almal wat hulself aanmeld in die Tuinroete vir ’n welverdiende ruskansie met ’n oop hart en gesindheid van omarming te verwelkom – of dit aan die voet van die Outeniquaberge, op die strande of in die inkoopsentrums is. Al ken ons mekaar nie by naam nie, moenie iets terughou van die goedheid in jouself nie. Deel dit eerder met ander, want dit mag dalk die eerste gebaar wees tot heling in die ander persoon wat aan die ontvangkant staan.
Dit is dalk tyd om kleiner treë te gee sodat siel en liggaam een kan word, nie net in jouself nie, maar ook in ander.