15 C
Mossel Bay
12th Aug 2022
Community & LivingGardeningNature & Nurture

KLEUR EN GEUR IN DIE LENTETUIN

Vilette, violas en laggende affodille met hul gekartelde rande is alles beelde wat by ’n mens opkom vir die lentetuin. Vrolike bolplante soos ixias, freesias, sparaxis, lachenalias en die meer statige watsonias, gee menige tuinier ure se plesier om vanaf knoppiestadium tot volle blomprag dop te hou. Hier in die natuurlike fynboshabitat is ons geseënd met ’n ongelooflike verskeidenheid. Speldekussings (leucadendrons), tolbosse (leucospermums) en proteas vertoon nie net maande lank pragtig in ons tuine nie, maar is ook uitstekende snyblomme vir kleurvolle rangskikkings (onthou net om die water weekliks te vervang).

Nog groot lentewenners is natuurlik Namakwalandse madeliefies met hul vrolike gesiggies en die groot verskeidenheid gazanias van rankers tot tipes wat meer polvormig is. In ons oorwegende sandgrond verskaf hulle maande lank baie plesier en kos vir skilpaaie. Diegene in “eco estates” kla weer dat gazaniablomme die bokkies se nagereg is. Hoe wonderlik om natuurlewe ook te kan versorg!

Vir diegene met min spasie, kan die tradisionele “3 P’s” – petunias, primulas en pansies (gesiggies) – in houers net soveel lenteplesier gee. Onthou net om hulle elke twee weke met vloeibare organiese of anorganiese voeding met ’n hoë kaliuminhoud te bederf.

Die lente sonder die geur van trosse wisteria wat baldadig uit ’n boom of oor ’n raamwerk stort, is byna ondenkbaar. Ongelukkig is wisterias aggressiewe rankers en kan skade veroorsaak indien die groei nie goed beheer word nie. ’n Makliker en immergroen alternatief is die blinkgroen sterjasmyn (Trachelospernum jasminoides), eweneens ’n slingerranker met ’n vars, amper lemoenbloeiselgeur.

Om ’n onooglike wal of muur te bedek, plant gerus ’n petrea of perskransie (Petrea volubilis) met sy diep persblou kleur. Die ranker is meer geneig om te bos en is nie so ’n sterk slingerranker soos sterjasmyn nie. Gewone jasmyn (Jasminium polyanthum) met sy ritse witpienk blommetjies gee ’n sterk geur wat deur die hele tuin versprei. Plante is geneig om na ’n paar jaar baie “dooie” hout te maak, maar kan drasties teruggesnoei word en sal binne een seisoen weer uitgegroei wees.

Related posts

THE ART OF CERAMICS

Mariëlle Renssen

To Spin

Lydie Terblanche

A Secretarybird as a sheep-seeking companion

Sally Adam

NUWE WETSONTWERP OP EIENDOMSPRAKTISYNS EN VERPLIGTE GETROUHEIDSFONDSSERTIFIKAAT

Lorandi Van der Merwe

Stranding Seminaar Groot Sukses

Tersia Marais

WAT IS GENEALOGIE?

Kwartus Sieberhagen