LEESKRING VERWELKOM WOORDKUNSTENAAR, DANIёL HUGO
Om ‘n besoek te kry van Daniël Hugo en sy vrou, Marlene, al die pad van Prins Albert af, was louter vreugde vir Grootbrak Leeskring se woord-mense op 8 Mei. Soos gewoonlik was die byeenkoms by die mooie Art@long kunsgalery in Groot Brakrivier.
Daniël Hugo, destyds bekende en geliefde stem agter die Tale Wat Ons Praat, is digter, vertaler, skrywer, ja, woordmens by uitstek. Saam met sy vrou, Marlene , eweneens joernalis, vertaler, fotograaf en proefleser, vorm hulle ‘n gedugte span wat met ons kom gesels het oor sy jongste boek Vers en Kapittel. Die boek is ‘n boeiende versamelbundel van artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns wat oor ‘n tydperk van bykans veertig jaar ontstaan het.
Met Marlene as gespreksleier, leer ons iets van die ontwaking van ‘n digter, hoe Daniël as jong seun in Windhoek opgegroei het en geïnspireer is deur die natuur en die “verbysterende boeke van die Sestigers”. Sy eerste versreëls het hy daar geskryf :
“Die aandson kleur die berge pers
En in my styg hierdie vers ………. ”
Hierdie gedig is steeds onvoltooid, maar dit was die begin van sy reis met bekende digters en skrywers, dwarsdeur D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium tot in Nederland en België en weer terug. Hy praat oor digters wat hom besonder beïnvloed het, veral Gerrit Komrij en D. J. Opperman. Daniël is ‘n gerekende digter met veertien poësiebundels op sy kerfstok.
Ons leer van vernufpoësie (om met woorde te speel), en sy beskouings oor die kwatryn en die limeriek; hoe hy aan ‘n gedig kom. “Een geseënde middag sit ek na ‘n dag van vertaalwerk op ons tuinstoep…… Skielik begin vliegies wentel en dans om my halfleë glas. ‘n Reël kom by my op: wynvlieë was daar sedert wyn gedrink word
. Die w- en d-alliterasie staan my nogal aan. Dit kan ‘n gedig word.”
Hy deel sy liefde vir tweedehandse boekwinkels om stukkies goud uit die gruis te delf.
Daniël bespreek ook kortliks sy onlangs vertaalde boek Wintersrust, deur Joyce Kotzè. Dit is beslis die lees werd; ons sou nog baie lank kon gesels.
Hy is deesdae vryskuttaalpraktisyn met vertalings van meer as vyftig Nederlandse boeke op sy kerfstok.
Gelukkig het Marlene ‘n verskeidenheid boeke en digbundels saamgebring en lede het gretig gebruik gemaak van dié geleentheid om boeke aan te koop.
Dit was ‘n besondere ervaring om twee taalkundiges so outoritêr oor hulle vakgebied te hoor praat en ons salueer Daniël Hugo vir sy literêre bydrae tot ons taal.