12 C
Mossel Bay
16th Jul 2019
Community & Living Motoring

Lexus UX

Die premium sportnuts is vandag se aspirasie voertuig. Elke luukse fabrikaat het deesdae so ‘n model en die verbruiker kan net nie genoeg van die tipe voertuie kry nie. BMW X1, Mercedes GLA, Jaguar E-Pace, Audi Q3 en nou die nuutste aankomeling, die Lexus UX. Die UX bevind hom tussen uitgelese geselskap dus.

Hierdie is ‘n belangrike model vir Lexus. Met die hedendaagse tendens waar kopers dié tipe bakvorm bo ‘n sedan verkies en die feit dat die UX inskuif as Lexus se bekostigbaarste sportnuts modelreeks, sal die UX in alle waarskynlikheid uit die staanspoor die fabrikaat se beste verkoper wees.

Nes Toyota se stilering deesdae gerig is om jonger kopers te lok, so mik Lexus in dieselfde rigting. Die UX word so geposisioneer dat dit moet byval vind by die jong professionele koper en die UX sal as sulks nie net so koper se eerste Lexus wees nie, maar inderdaad sy eerste Premium fabrikaat aankoop. Dit word bewerkstellig deur slim posisionering in ‘n moeilike segment wat spog met net uitstekende voertuie. Om seker te maak dat die keuse op die nuwe Lexus val, is die UX toegerus met ‘n uitgebreide spesifikasielys wat sal byval vind by die teikenmark (soos byvoorbeeld die koordlose stelsel wat jou slimfoon se battery herlaai) terwyl soortgelyke spesifikasie opsionele ekstras is by die opposisie.

Die Lexus UX is beskikbaar in twee variante, die UX200 en die UX250h. Eersgenoemde is toegerus met ‘n nuwe tweeliter viersilinder natuurlik geaspireerde enjin (126kw & 205Nm) gekoppel aan ‘n palwissel-ratkas, terwyl die UX250h ‘n tweeliter viersilinder enjin kombineer met ‘n vierde generasie hibriede kragbrom spesifiek ontwikkel vir hierdie platvorm. Die hibried-kombinasie bring die tweeliter enjin (6,1L/100Km) se verbuik af na 4,5L/100km, aldus Lexus.

Die ontwerpstaal van die UX is, tipies Lexus, besaai met skerp hoeke en lewendige lyne. Vanaf die spindelrooster, verby die sierwiele tot agter by die hoekigheid van die agterligte is hierdie nie net ewekansige stilering nie, nee, elke lyn, vou en vorm is funksioneel. Van die bedekte bodem tot die vorm van die wielboe en agterligte dra die ontwerp by tot stabiliteit en die teenwerk van windgeraas. En dan is daar die aandag aan detail. Die naam “Lexus” pryk byvoorbeeld diskreet in die lighulsels. Die paneel gapings is eweredig, die verf egalig, die bou kwaliteit is, wel, tipies Lexus.

As hierdie model die voornemende koper se eerste toetrede tot die Lexus fabrikaat gaan wees, beter die motor beïndruk. Dus is die energieke dog slim ontwerp en stilering voortgesit in die binneruim met imposante vlakke van tegnologie en toerusting, veral gemik op die “millenials”, wat as standaard ingesluit is. Vir die meer sportiewe kopers is daar die opsionele F-Sport spesifikasiepakket wat sportsitplekke, instrumente en stuurwiel, aanpasbare vering, Sport+ rymodus en dinamiese spoedbeheer, onder andere, insluit. Buitelangs bied die F-Sport pakket ‘n sportiewer voorkoms met ander sierwiele, sierrooster, en buffers.

Op die pad het die Lexus eweneens beïndruk met sy gewillige enjin en vasvoetige hantering, maar wat die mees opvallend was, is hoe stil die motor loop. Dit voel of die Lexus oor die pad sweef tydens ons fluistertog oor die toetsroete. Selfs die oopmaak van ‘n pakkie neute versteur die stilte net soos ‘n lekkergoed papier in die fliek. Dis nie ‘n blitsbuks nie, versnelling van 0-100km/h geskied in 9,2 sekondes, maar die UX gee ook nie voor om ‘n blitsbuks te wees nie. Die vering is sagter en die wa gly oor spoedwalle en enige hobbelrigheid. Selfs die F-Sport modelle ry gerieflik. Moet dus nie dat die Sport benaming jou mislei nie. Dis nie ‘n hard geveerde, gefokuste sportmotor nie. Die NX bly getrou aan wat hy eerste is, ‘n stadskryger.

Die Lexus UX ding mee in ‘n taai mark, maar die produk staan vir geen ander vervaardiger terug nie. Hy teiken die regte koper met die regte toerusting en die feit dat dit die nuutste en jongste toevoeging tot die segment is behoort in sy guns te tel. Dis nog redelik eksklusief en vir dié tipe koper is die lewe te kort om ‘n algemene voertuig, wat laas jaar al uitgekom het, te ry.

Related posts

Inspirerende Landbouprojek vir Jeug in Groot Brakrivier

Marianne Alberts

Great Brak’s Lost Garden

Scott Thomson

Cryptocurrency in your Estate

Ankia Botha

Barista Champion of South Africa visits our Region

Mike Ehrman

Conservancy lends Helping Hand to Child Welfare

Scott Thomson

Lights & Lanterns 2018 in Groot Brakrivier

Laurinda Smit

Leave a Comment