Met die somer amper verby en met die skaduwees wat langer word, kan koeler dae ons tuinwerk weer ’n plesier maak. Dit is tyd vir die groot opruim, diep omspit en voeding gee. Beddings behoort twee graafdieptes omgespit en met kompos, beenmeel en superfosfaat verryk te word. Gevestigde struike en plante is nou eweneens honger vir voeding van ou, gebluste mis, kompos of algemene chemiese voeding soos 2:3:2. Moenie bestaande, gevestigde beddings spit na toediening van voeding nie. Die mikrobes en organismes in die grond sal dit self inwerk. Tuine wat altyd met ’n dik deklaag bedek is, sal soveel meer baat vind by voeding wat net bo-oor gestrooi is.
Bolle
Maart is ook bollemaand. Koop gerus aan uit die groot verskeidenheid affodille en ons pragtige inheemse bolletjies soos ixias, freesias, tritonias, sparaxis en babianas. Plant eers nader aan maandeinde of sodra die grond koeler is. Uitheemse hiasinte en veral tulpe behoort eers in ’n koel, droë plek geberg te word en in grond van minder as 17 grade Celsius geplant te word.
Kleur
Seisoenale blomme wat die winter en lentetuine gaan opkikker, sluit in Namakwalandse madeliefies, bokbaaivygies, heuningblommetjies, koringblomme, nemesias en gousblomme (calendulas) – alles kan direk in die grond gesaai word. Hou saadbeddings net goed nat totdat saailinge mooi sterk gevestig is.
Die immergewilde 3 P’s – pansies (gesiggies), papawers en primulas sal ook baie plesier gedurende die wintermaande verskaf.
Groente
Die “veggiemental”-gier bestaan al ’n geruime tyd en word sterk aanbeveel. Dit beteken dat groente en kruie tussen blomplante geplant word. ’n Pragtige kontras word met oranje/geel gousblomme en beet of snybeet geskep. Krulblaarpietersielie vorm ’n randakker vir ’n bedding papawers. Water is skaars en duur, dus benut ’n mens so ’n skaars hulpbron op ’n ekonomiese wyse. Ons kan letterlik ons tuintjies eet.