Toe die nuwe generasie Pajero Sport bekendgestel is, was dit ‘n grensverskuiwende verbetering op die uitgaande model. Die nuwe Pajero Sport pronk met van die beste tegnologie in sy klas, maar in besonder het die nuwe super-gladde outomatiese 8-gang-ratkas die grootste verskil gemaak. Wisseltraagheid, wat soms in die ouer modelle gepla het, is iets van die verlede. Met intelligente wisselbeheer en Mitsubishi Motors se nuutste weergawe van sy unieke Super Select II 4WD-stelsel is die Pajero ‘n plesier om te bestuur, beide op en van die pad af. Met elektroniese veldrybystand, afdraandebeheer, sowel as aktiewe stabiliteit en kloubeheer en boonop met ’n ewenaarslot agter, is daar nie veel terreine wat jy nie sal baasraak nie.
Onder die enjinkap is die lewendige 2.4L MIVEC turbodiesel-enjin die perfekte pasmaat vir die outomatiese 8-gang-ratkas. Wat veral opval is die balans tussen enjinkrag, brandstofverbruik en stilte in die kajuit, met gladde versnelling selfs teen lae enjinsnelhede. Die tussenverkoelde 2,4-liter turbodiesel lewer 133 kW en belangriker, 430 Nm teen slegs 2 500 toere. Dit maak die Pajero Sport ‘n ideale sleep voertuig met ‘n sleep vermoë van tot 2 790 kg. Genoeg vir buitelugliefhebbers om hul woonwaens of sleepwaens, bote of selfs perdesleepwaens te kan sleep.
Veiligheid is nie agterweë gelaat nie en die Pajero is toegerus met aktiewe en passiewe veiligheidseienskappe, waaronder 7 lugsakke, ISOFIX-kindersitplek-ankers, reënsensor-ruitveërs, parkeerhulp agter, ’n truratkamera, aktiewe stabiliteits- en kloubeheer (ASTC), sluitwerende remstelsel (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD), remhulpstelsel (BAS), opdraande-wegtrekhulp (HAS) en dagryligte (DRL).
Nou het Mitsubishi Motors ‘n spesiale beperkte uitgawe model by die modelreeks gevoeg: Die Pajaro Sport Shogun! Die nuwe Pajero Sport Shogun is op die Mitsubishi Pajero Sport 4×4-outomaties gegrond wat as finalis vir die 2019-Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-kompetisie gekies is en waarvan die wenner in April 2019 aangekondig sal word.
Hierdie nuutste toevoeging, wat in silwer, titaangrys en pêrelwit beskikbaar is, pronk met aanvullende toerusting van R60 000 en bykomende weelde sonder enige bykomende koste vir die eienaar. Dit sluit in die nuwe Apple- en Android-vermoë van die omvattend opgegradeerde en fabrieksgeïnstalleerde inligtingvermaakstelsel, waaronder ’n 7”-raakskerm met elektroniese skakelaars, Bluetooth, GPS en ’n USB-aansluiting met Bluetooth-verbinding wat dit moontlik maak om musiek via die stelsel te stroom.
Afgesien van die Apple CarPlay / Android Auto inligtingvermaakstelsel is die Pajero Sport Shogun toegerus met aantreklike en praktiese Thule-dakspore, kopligbeskerming, ’n enjinkapskerm, ’n swart nerfstamper, swart deurhandvatsels, ’n bagasieruimbedekking, kantvenster-windweerkaatsers, sleepstang, Shogun-kentekens in swart en silwer en ’n Shogun-matstel met grys kentekens.
Die Pajero Sport Shogun kos R639 995, wat insluit Mitsubishi Motors se fabriekswaarborg van 3 jaar / 100 000 km en ’n diensplan van 5 jaar / 90 000 km met dienstussenposes elke 10 000 km.