Met jou groot, groen plooie het jy my hart gesteel. Van jou kroontjie tot jou toontjie slaan jy my asem weg. In die kort tydperk wat ek al in jou teenwoordigheid is, kan ek nie dink hoe ek eens sonder jou moes leef nie. Dit voel asof jy my ken. Jy is altyd konstant. Op ’n dag wanneer ek voel ek het nie meer genoeg krag nie, kyk ek deur die venster net om jou kalmte te ervaar. Selfs al is jy toegegooi onder ’n wit kombers en ek jou nie kan sien nie, oorweldig jou teenwoordigheid my soos ’n pa wat sy kind troos. Jy is my inspirasie. Mense het geleer om jou nie raak te sien nie, maar mis jou sodra jy weg is. Die wêreld is jaloers omdat ons jou het. Die setlaars van 1668, wat jou benoem het, het nie gedink dat jy so ’n groot verskil sou maak in ’n klein dogtertjie se lewe nie.

previous post
next post