Mosselbaai Gastehuis Gilde is in 1995 gestig om as spreekbuis vir sy lede op te tree, om onderling die oorloopgaste na mekaar te verwys en om die Groter Mosselbaai as toerist bestemming te bemark. Ons 42 lede strek vanaf Danabaai tot by Voorbrug waarvan verskeie lede in Groot-Brakrivier area is. Die instellings bestaande uit gastehuise, B+B’s, selfsorgeenhede, “backpackers” en plaas-akkommodasie en wissel van 2-ster tot 5-ster gegradeerde instellings. Waar lede nie ster gegradeer is nie voldoen hulle nie aan die minimum vereistes soos deur die Gilde neergelê.
Daar is ‘n ongelooflike goeie samehorigheid tussen die Gildelede wat sesweekliks vir vergaderings byeen kom. Waar moontlik word die vergaderings by verskillende toerisme instansies soos byvoorbeeld restaurante gehou ten einde daardie instansies aan die Gildelede bekend te stel. Tydens hierdie vergaderings word eienaars van toeriste aktiwiteite en besienswaardighede in die Mosselbaai- omgewing genooi om lede voor te lig. Dit bemagtig die Gildelede om hul gaste in te lig wat in die omgewing aangbied word om sodoende te verseker dat gaste langer in die omgewing vertoef.
Gedurende die stil-toeriste seisoen inisieer die Gilde verskeie toere vir sy lede en ander belangstellendes na toerisme besienswaardighede en aktiwiteite, binne en buite die Mosselbaai area, ten einde hulle eerstehandse kennis daarvan te gee, wat dan weer aan hul gaste oorgedra kan word.
As voorbeeld het die Gilde vanjaar gedurende Mei twee toere gereël, waartydens onder andere Jakkalsvlei Kelder en ‘n mampoer stokery in die Herbertsdale omgewing besoek is. Tydens die tweede toer is ‘n plaaslike kaasmaker, ginprodusent, die Percheron perdeplaas, proteaplaas en wildsplase in die Brandwag/Ruiterbosch omgewing besoek, waarna dit met ‘n Hamburger ete by Ruiterbosch Lodge afgesluit is. Gedurende Junie vanjaar, het die lede op uitnodiging van die eienaars, die Garden Route Game Lodge te Albertinia besoek waar die jagluiperd en haar vier welpies van naby besigtig kon word. Daar is ook gedurende Junie ‘n besoek aan die bekende Aloe Ferox Fabriek, Tuinplaas en die Voëlroepersfontein op Albertinia gebring. In Julie maand het die lede ‘n insiggewende besoek aan De Rust gebring. In 2018 is die Fragrance Route tussen Groot- Brakrivier en Friemersheim besoek.
Die lede van die Gilde het ook ‘n passie vir hulpbehoewendes en tydens elke vegadering, word nie-bederfbare items vir Solidariteit Helpende Hand na die vergaderings gebring.
Vir meer besonderhede skakel Joy Cook by joy@whalephin.co.za.