Toe BMW in 2007 hul F800GS bekendgestel het, was dit ‘n baanbreker in die middelgewig avontuurmark. Toentertyd was die norm in die segment ‘n enkel silinder 650, terwyl jou tweeslilinder opsies iets soos die Honda TransAlp of die padgeoriënteerde Suzuki V-Strom was. Die 650 V-Strom was vinnig genoeg en die 700 TransAlp was vermoënd genoeg van die pad af, maar die F800GS het ‘n kombinasie van beide gebied, asook ‘n meer interaktiewe ry-ervaring, en het die weg gebaan vir middelgewig twee-silinder avontuurfietse.
Sedert daardie dae het baie verander. Meeste 650 enkel-silinder motorfietse het weggeval en ‘n hele reeks nuwe modelle het met die F800GS kom meeding. Triumph het die 800 Tiger, ‘n lewendige drie-silinder met verslawende klank en versnelling. Honda het die segmentleier, die Africa Twin, wat gerat is om van Kaap na Kaïro te ry en KTM is op die punt om die 790 Adventure bekend te stel, ‘n motorfiets wat waarskynlik die mees vermoënde van die pad af sal wees. Dit was dus tyd dat BMW ‘n nuwe generasie van die baanbreker bekendstel om hom in lyn te bring met wat die mark bied. Die aanslag waarmee BMW mee vorendag gekom het, is interessant. Die nuwe F750GS (wat die F700GS vervang) en die F850GS.
Die F750GS, soos sy voorganger, sal plaaslik waarskynlik nie in groot getalle verkoop nie. Die verskil tussen die F750GS en F850GS is ook nie massief nie. Hoofsaaklik wielgrootte, die gevolglike grondvryhoogte en ‘n verskil in kraguitset. In die F750GS lewer die 853cc enjin 57kW / 83Nm, terwyl dieselfde enjin in die F850GS 70kW / 92Nm lewer. Die 850 bied ook speke, terwyl die 750 op allooi wiele ry. As jy nou in ag neem dat die prysverskil ook nie groot is nie, so rondom R10 000, kan jy net so wel die sterker fiets ry – mits jy nou nie té kort is nie.
Die nuwe generasie fietse is van die grond af nuut ontwerp en indrukwekkend toegerus met spesifikasie en tegnologie. Ooglopende veranderinge is die instrumente paneel wat vervang is met ‘n tablet-tipe skerm. Die brandstoftenk is nou op die tradisionele plek en die voorlig is ook meer tradisioneel, alhoewel die dagry-ligte steeds die groot lig / klein lig effek skep. Die motorfiets is sleutelloos en so lank jy die sleutel by jou het kan jy net die aansitterknoppie druk om die uitlaat te hoor brul. Die skerm begin met indrukwekkende grafika en bied letterlik al die informasie wat jy nodig het, en meer. Daar kan geselekteer word tussen verskillende skerms en van daar kan jy jou vering verstel (ESA: Road / Dynamic), so ook jou ry-modus (Rain / Road / Dynamic / Enduro Pro) en jou telefoon en valhelm met die motorfiets koppel. Rit-rekenaars bied al die inligting, insluitend dinge soos olie, temperature en banddruk. Verder is daar spoed-beheer, sluitweerremme en glip-beheer (beide kan afgeskakel word) en handvatselverwarmers. Selfs die middel-staander is standaard.
Begin die wiele rol voel die fiets gemaklik, eerder as oordonderend. Kraglewering en hantering is voorspelbaar en boesem onmiddellike vertroue in, veral in die verkeer. Die Dinamiese-modus is heelwat lewendiger en bied ‘n meer entoesiastiese rit. Elke ry-modus verandering verander die karakter van die ABS, glip-beheer, versneller-reaksie asook die vering, so rit-modus verstellings is opmerklik verskillend. Op die grondpad, met Enduro Pro geselekteer, was die rit gemaklik ongeag veranderinge in padoppervlak. Ons pad was harde gekompakteerde grond, met los grond en klippies bo-oor. Die 850GS het gemaklik korte mette van die pad gemaak. Op die teer het ek in die ry teruggeskakel na pad-modus. ‘n Kort rukkie later bevind ek my toe weer op grond en skielik was die motorfiets buite sy gemaksone en uiters senuagtig. Die vering was hopeloos te hard oor die sinkplaat pad, ek het gesukkel om die krag neer te sit want die glipbeheer het heeltyd tussen beide getree en toe ek wou rem het die ABS veroorsaak dat ek wyd deur die draai moes ry. Inderhaas het ek weer EnduroPro-modus geselekteer en die verandering was ‘n openbaring. Skielik was die fiets nie net onder beheer nie, maar soveel so dat ek volle vertroue in die stelsel gehad het. Draai jy die oor in die modus kan jy die agterwiel laat tol en selfs uithang, tot op ‘n punt waar die stelsel jou vang. As jy hard wil rem kan jy die agterwiel sluit en nodeloos om te sê, waar ek die eerste stuk grondpad rustig gery het, het ek op die tweede baie meer entoesiasties gery en gespeel.
En dit, is wat ‘n GS is – Gelände/Straße (veld en pad). BMW het nie probeer om die gehardste avontuurmotorfiets te bou nie. Volgens Edgar Kleinbergen, bestuurder van BMW Motorrad SA, is die F750GS ‘n padfiets wat ook in staat is om grondpad te ry. Die F850GS is ‘n padfiets wat in staat is om jou op avonture te neem. Die pryse is stewig. Die F750GS begin by R184,750.00 en die F850GS vanaf R196,950.00. Jy betaal dus ‘n premie om die GS eerder as die Africa Twin in jou motorhuis te parkeer, maar BMW glo dat die omvattende pakket van tegnologie en spesifikasie, asook die uitgebreide handelaarsnetwerk die verskil in die oë van die kliënt sal regverdig.