30 C
Mossel Bay
29th February 2024
Arts & CultureCommunity & LivingGeneral knowledgeTourism & Travel

MY BALI – DIE “TONG-TIPPIE-TOETS”

Ek en my geliefde moeder se volgende stop in Ubud (Bali), is by ’n koffieplantasie waar ons die koffieroosterproses beleef en verskillende gegeurde koffie en tee probeer.

Die meeste koffieboere in Bali se hooglandstreke is lede van ’n tradisionele boerderystelsel genaamd Subak Abian, wat op die Hindoe-filosofie van “Tri Hita Karana” gebaseer is. Volgens hierdie (benydenswaardige) filosofie, word voorspoed, geluk en welvaart bewerkstelling deur in harmonie met God, ander mense, en die omgewing te leef. Hierdie filosofie, spesifiek “in harmonie met die omgewing”, bevoordeel die produksie van organiese koffie deurdat daar van organiese bemestingstowwe, eerder as landbouchemikalieë, gebruik gemaak word.

Alle Arabica-koffie, of dit nou deur kleinboere of op mediumgrootte landgoedere gekweek word, word met die hand gepluk. Na die oes word die koffie op verskillende maniere verwerk, wat dan eie geure en aromas aan die finale produk gee.

Byna alle Robusta-boere (Robusta-bone is kleiner en het meer kafeïen as Arabica-bone), gebruik die tradisionele metode van droë verwerking. Die koffiekersies word in die son gedroog en dan in ’n droë toestand uitgedop. Ander gebruik die vergulde basah-proses, waar die buitenste vel van die kersie meganies verwyder word.

Die mees ongewone (en omstrede) vorm van koffieverwerking is Kopi luwak, wat deur die Asiatiese palmsivet (Paradoxurus hermaphroditus) geëet word. Hierdie nagdiere eet die ryp koffiekersies en hul verteringsproses verwyder die buitenste lae van die vrugte. Die oorblywende koffiebone word versamel en gewas. Koffiekenners glo dat die unieke geur van Kopi luwak ten minste gedeeltelik as gevolg van die onttrekking van natuurlik voorkomende kaliumsoute uit die boontjies tydens die spysverteringsproses afkomstig is. Dit lei tot ’n gladde, sagte en peperduur koffie met ’n soet nasmaak.

Ons doen die “tong-tippie-toets” en probeer soveel moontlike verskillende soorte koffie: Ginseng, Vanielje, Klapper, Avokado, Kopi luwak, Kintamani (Arabica), Bali (Robusta), Peaberry, Munduk, Mochaccino, Espresso en hulle organiese Hot Cocoa. Ons proe ook hulle plaaslike teemengsels –  Mangosteen, Rys, Saffraan, Rosella, Gemmer en Lemon Grass. Ons twee se smaaksintuie het behoorlik gejuig. Natuurlik met ons latere terugkeer na die Suidpunt van Afrika was ons tasse (nadat ons al die oortollige muskiet-afweerders, son-blokkeerders, snesies en Wet wipesuitgegooi het),  vol koffie en tee gepak.

Dié aand het ons tradisionele danse ervaar. Hierdie danse is deel van die Balinese kultuur en dit is selfs in die buiteland bekend. Dansers dra verskillende pragtige kostuums, die danse het gewoonlik ’n morele boodskap (waardes van geduld, opoffering, deug, toewyding en/of deernis),  en hulle verstommende liggaamsbewegings wat met ongelooflike grasie uitgevoer word, is ’n fees vir die oog.

Tradisionele Balinese musiek vergesel die tradisionele danse. Hulle musiekinstrumente het elk sy eie eienskappe en word op ’n unieke manier gespeel. Ons het ’n demonstrasie van een van hierdie bamboes-musiekinstrumente beleef. Die klanke is baie kenmerkend, maar bly vreemd op die oor en ek moet erken dat ons na ’n paar dae van net Balinese musiek, vir enige ander musiek gereed was!

Related posts

VAN GIVERNY TOT GROOT-BRAK

Linda Meyer

NEWS FROM WONDERFUL SA FOUNDATION/GREAT BRAK YOUTH CAFÉ

Jannes Buys

Mosselbaai Gastehuis Gilde verwelkom nuwe Lede

Joy Cook

WHALE WATCHING!

Janine Pereira

PRAAT-PRAAT DEUR DIE LEWE

Madelein Campher

“Immergroen”- dis ons Jack Juries

Laurinda Smit