Ek herontdek onlangs ’n skoolkennis. Op die daad besluit ons dat koffie en sjokoladekoek ter viering van die geleentheid gepas sal wees.
Tydens die gesprek dink ek dit is seker hoe dit is wanneer jy vir terapie gaan: een praat en een luister. Gou is ons verby die mylpaal van wat wie doen en hoe groot die kinders is. Dit is die kleinkinders se beurt, ingekleur met selfoonalbum byderhand. Vir die geleentheid moet ek my leesbril nadertrek. Ek is dankbaar dat ’n entoesiastiese glimlag, kompliment en kopknik genoeg van ’n bydrae is tot die gesprek. Die feit dat ’n Barend, drie kinders en ses kleinkinders nie deel van my leefwêreld is nie, laat my lewe maar uiters vaal daar uitsien.
Terug by die huis besef ek tydens die nabetragting dat mense dikwels dieselfde behoeftes nastreef. “Iemand wat sal luister, sal deel in die dag se oomblikke van vreugde of smart, wat tyd sal afstaan en bemoeienis maak.”
Seën jouself met ’n knippie bemoeienis en staan tyd af aan ’n ander: dit verryk nie net jou lewe nie, maar is van waarde vir dié wat dit ontvang.