30 C
Mossel Bay
29th February 2024
Community & LivingGeneral knowledgeHealth & BeautyRelationships

’N LYSIE VAN ONTHOU

Ek het jare gelede die gewoonte begin om in die laaste paar dae voor die jaar tot sy einde kom, doelbewus te gaan sit en nabetragting te doen oor hoe die jaar vir my verloop het. Aanvanklik was dit net ’n kort terugblik om te “pinpoint” waar ek myself nou bevind, teenoor waar ek was toe die jaar nog vars en nuut voor my uitgestrek gelê het. Dit het later in ’n veel meer komplekse oefening ontwikkel waarin ek spesifieke vergelykings gemaak het, spesifieke vrae gevra het en die jaar beskryf het volgens die impak wat gebeure op my as mens en my leefwêreld gehad het. Die waarde van hierdie oefening was onmiddellik vir my meer as wat ek my ooit kon indink. Om na te dink oor wat my skade berokken het, swak besluite wat ek geneem het, dinge waaroor ek nie beheer gehad het nie en weer redes tot vreugde of dankbaarheid te lys vir die mooi en goed, help my om perspektief en ’n beter geheelbeeld van die afgelope jaar te kry. Hoe beplan ’n mens dan vorentoe as ons nie eers stilstaan om voorraadopname te doen nie?

Volgens die internet is die top vyf mees algemene nuwejaarsvoornemens om meer te oefen, gewig te verloor, beter georganiseerd te wees, ’n nuwe vaardigheid of stokperdjie aan te leer, en die lewe voluit te lewe. Baie mense maak nuwejaarsvoornemens af as ’n mors van tyd. Ek sou met hulle kon saamstem, want voornemens of intensies wat nie oorgaan in dade nie, is verseker ’n mors van tyd. Wanneer positiewe voornemes egter oorgaan in dade, is dit heeltemal ’n ander saak. En wie wat iets aanpak of probeer, kry dit altyd die eerste keer reg? Dit verhoed ons nie om dit weer en weer aan te pak, en dalk na ’n paar pobeerslae, moontlik reg te kry nie. Om voornemens te hê, te probeer om daarby te hou maar tog te faal, is baie beter as om geen voornemens te hê nie as gevolg van jou eie vorige (gefaalde) pogings, en daarna nooit weer te wil probeer nie. “Shoot for the moon and if you miss, you will still be among the stars.”

Die afgelope jaar het vir elkeen van ons anders gelyk. Vir party was die jaar gevul met hoogtepunte, waar ander die jaar vir altyd mag onthou vir die sleg wat dit ingehou het. Geen mate van beplanning kan ons waarlik voorberei vir die gebeurlikhede wat ’n nuwe jaar mag inhou nie. Wanneer daar onweer en selfs storms kom, is dit eers as ons daaroor terugkyk, dat ons wáárlik die impak, maar ook die beskerming en voorsiening kan besef. My wens is dat jou dankbaarheidlysie altyd langer sal wees as jou bekommernislysie.

Related posts

SANDSIRKELS EN KLIPKRINGE

Janet Botes

‘PETRO HANSEN SE AFRIKAANS SMELT SOOS BOTTER OP DIE TONG’

Lydie Terblanche

THANK YOU FROM WONDERFUL SA!

Jannes Buys

CAN YOU BE FIRED IF ARTIFICIAL INTELLIGENCE TAKES YOUR JOB?

Herman Swanepoel

YOUTH CAFÉ ABUZZ IN GREAT BRAK RIVER

Jannes Buys

CHASED BY A LION!

Mariëlle Renssen