‘n Bestaande staproete na die Wolwedansdamwal het onbegaanbaar geraak as gevolg van die natuur wat sy gang gegaan het. Agt vrywilligers het woord by daad gevoeg en oor ’n tydperk van agt weke die bosse wat die paadjie versper het, teruggesny. Die paadjie is ook met wit pyle gemerk, sodat dit maklik gevolg kan word.
Die staproete begin aan die eindpunt van Willowstraat (net verby die munisipale kantore in Groot Brak) en eindig by die Wolwedans damwal. Die pragtige roete is 3,1 km lank en neem sowat 90 minute om tot by die damwal te stap. Fikse stappers kan verder met die trappe tot bo-op die 70 m hoë damwal klim.
Soos alle staproetes word hierdie roete op eie risiko aangepak en mag by tye nat en glad wees.
Vir meer inligting kontak gerus Louis de Wet by 044-620-2293.
Caption: Drie van die vrywilligers, Mike Latsky, Louis de Wet en Johan Muller by die damwal.