Om in ’n pandjieswinkel rond te snuffel, maak my opgewonde. Is die verlore pasmaats van ’n bestaande stel platboompotte, ontwerpersglase of rare teekoppies, moontlik hier te vinde? Gaan ek ’n egte kristalkraffie of silwer melk- en suikerpot raakloop vir ’n fraksie van die prys van ’n nuwe een? Natuurlik is daar menigmaal (gewoonlik) net ’n klomp ou goed wat glad nie in my smaak val nie, maar die moontlikheid dat vandág die dag is waarop ek die vonds van alle vondse raakloop, spoor my aan om weer en weer by ’n pandjieswinkel te gaan rondsnuffel.
In 2015 het ’n man in Phoenix ’n horlosie in ’n pandjieswinkel vir slegs $5.99 gekoop. Hy het die item laat waardeer, net om uit te vind dat daar slegs 900 van hierdie 1959-horlosies gemaak is en hierdie spesifieke item, $35 000 werd was! In ’n ander geval het ’n persoon ’n ring met ’n groot steen by ’n rommelverkoping gekoop. Sy het altyd gedink dat dit ’n stuk kostuumjuwele was, veral aangesien sy slegs $13 daarvoor betaal het. Op ’n stadium het sy haar juwele, waaronder hierdie ring, laat waardeer. Sy vind toe uit dat dit ’n 26 karaat-diamantring uit die 18de eeu was, met ’n waarde van $455 000!
Ons is geneig om iets kosbaars te gaan soek op plekke waar kosbaarhede te vinde is. Iets kosbaars kan egter reg onder ons neuse wees, maar ons mis dit omdat dit tussen die alledaagse, die gewone, verbloem lê.
Wie in jou lewe is die “skat” wat wag vir jou om sy waarde te besef? Wag jy vir ’n geleerde uit die buiteland om vir jou nuwe insig te bring, terwyl jy moontlik gereeld skouers skuur met ’n “gewone” persoon vol wysheid en getuienisse oor goedheid en voorsiening? My versugting is dat jy die kosbaarhede in die gewone mense om jou sal raaksien en ontgin en so self ’n ryker mens sal wees.