12 C
Mossel Bay
5th Jun 2023
Community & LivingNature & NurtureTourism & Travel

’N TUIN VOL VOËLS!

Om ’nvoëltuin in die Tuinroete te vestig, is een van die lekkerste stokperdjies wat daar is. ’n Welige tuin vol wilde voëls wat sing en kwetter, verskaf groot vreugde en genot aan die tuinier, en dit hoef nie eers baie te kos nie. En daarmee bedoel ek dat dit nie noodwendig nodig is om kos uit te sit vir voëls om hulle na jou tuin toe te lok nie. Dit is beter om plante wat op ’n natuurlike manier kos aan die voëls verskaf, te plant. Dit is ook natuurlik baie belangrik om van die staanspoor af water aan die voëls te bied – hiervoor is ’n gewone sementvoëlbad heeltemal voldoende.

Die meeste “tuinvoëls” vreet een of meer van die volgende vier kossoorte: saad, vrugte, nektar of insekte. Dink byvoorbeeld aan saadvreters soos sysies; vrugtevreters soos muisvoëls; nektarvreters soos suikerbekkies of selfs insekvreters soos diederikkies. Die regte verskeidenheid plante kan al hierdie kossoorte aan dié voëls verskaf. Dit is wel belangrik om inheemse plante te plant – nie net inheems aan Suid-Afrika nie, maar spesifiek inheems aan die Tuinroete. Die lys hieronder verskaf plante wat van nature in die Tuinroete voorkom en beslis baie voëls na jou tuin sal lok.

VERSKAF NEKTAR

  • Aloe arborescens (kransaalwyn/krantz aloe), ’n vetplant-struikgewas
  • Aloe ferox (bitteraalwyn/bitter aloe), ’n enkelstam-vetplant
  • Burchellia bubalina (wildegranaat/wild pomegranate), ’n mooi struik
  • Erica unicolor ssp. georgensis (George-heide/George heath), ’n struikgewas
  • Kniphofia uvaria (vuurpyl/red-hot poker), ’n bolplant
  • Leonotis leonurus (wildedagga/wild dagga), ’n struikgewas
  • Protea eximia (breëblaar-suikerbos/broad-leaved sugarbush), ’n struikgewas
  • Protea neriifolia (suikerbos/narrow-leaved sugarbush), ’n struikgewas
  • Protea repens (suikerkan/common sugarbush), ’n struikgewas
  • Tecomaria capensis (Kaapse kanferfoelie/Cape honeysuckle), ’n struikgewas

VERSKAF NEKTAR EN VRUGTE

  • Halleria lucida (notsung/tree fuchsia), ’n klein boompie

VERSKAF VRUGTE

  • Rapanea melanophloeos (boekenhout/Cape beech), ’n boom
  • Rhamnus prinoides (blinkblaar/dogwood), ’n mooi struik

VERSKAF VRUGTE EN LOK INSEKTE

  • Celtis africana (witstinkhout/white stinkwood), ’n bladwisselende boom
  • Ficus sur (besemtrosvy/broom cluster fig), ’n groot boom

LOK INSEKTE

  • Buddleja saligna (witolienhout/false olive), ’n klein boompie
  • Nuxia floribunda (bosvlier/forest elder), ’n boom
  • Vachellia karroo (soetdoringboom/sweet thorn), ’n boom

Related posts

ALIENS, ALIENS EVERYWHERE!

Janine Pereira

CAN A “FOREST FLOOR” CHANGE A CHILD’S IMMUNE SYSTEM?

Aa'isha Alexander

CHANGING NEGATIVE THINKING PATTERNS

Debbie Hampton

The Cape South Coast has much more on offer than you think – A new Hominin Tracksite!

Dr Charles Helm

LAAT SLAAP IS NIE MEER ‘N OPSIE NIE!

Jenaide Chippe

STAP WAAR DIE STILTE VAN DIE KAROO OORVERDOWEND TERUG PRAAT

Heleen Coertze