14 C
Mossel Bay
28th May 2023
Community & LivingNews

‘n Wit Olifant

Die onlangse oprigting van die embleem van Mosselbaai Munisipaliteit in Groot-Brakrivier het weer vir my ʼn lewenswaarheid onderstreep: dit gaan nie oor wat jy sê nie, maar oor hoe jy dit sê. Hierdie beginsel word weerspieël in dié artikel en op Groot-Brak Staan Saam se Facebook-blad na aanleiding van die oprigting van die struktuur by die ingang van die unieke Suid-Kaapse dorpie.
The Post het gaan aanklop met spesifieke vrae by die Mosselbaai Munisipaliteit, plaaslike sakesektor en etlike individue na aanleiding van die oprigting van die embleem en naambord.
Vrae wat deurgegee is:
• Watter proses is gevolg in die oprigting van hierdie strukture?
• Watter inset het die belastingbetaler gehad?
• Wie was betrokke by die identifisering van die area waar dit opgerig is?
• Wat was die koste verbonde aan die bou sowel as die oprigting hiervan?
• Die aanbring van die naam Mosselbaai – kan dit moontlik besoekers en toeriste verwar wat nie noodwendig weet dat Groot-Brakrivier onder die Munisipale jurisdiksie val nie?
• Is hierdie voorstelling die begin van die verfraaiing van Langstraat?
Terugvoering van Colin Puren, Mosselbaai Munisipaliteit se Uitvoerende bestuurder (Strategiese Dienste):
Die besluit om die verwelkomingsborde/embleme op te rig is reeds veskeie jare terug geneem. Die intensie was om by al ons dorpsingange dieselfde tipe embleme op te rig om sodoende eenvormigheid te bewerkstellig. Die ideaal sou wees om al die ingange se embleme op dieselfde tyd op te rig – dit was egter nie moontlik nie weens begrotingstekorte. Om hierdie rede word dit dus oor ʼn paar finansiële jare opgerig. So is daar bv. by Danabaai langs Louis Fourieweg ʼn bord/embleem opgerig. Daar is ook by die ingang by Hartenbosheuwels so ʼn embleem opgerig en langs Louis Fourieweg naby Georgeweg se aansluiting. Die een wat nou opgerig is langs Langstraat, Grootbrakrivier, is die laaste een. Dit was egter moeilik om toestemming vanaf SANRAL, die padowerheid van die N2 te verkry om die embleem langs die N2 op te rig. Dit is dus so na as moontlik aan die N2 opgerig.
Daar is nie publieke deelname gedoen om enige van die posisies te bepaal nie. Die munisipale amptenare het die bes moontlike plekke geïdentifiseer. In die geval van Langstraat is daar verskeie dienste ondergronds en is die plek waar dit nou opgerig is as die beste geïdentifiseer.
Die doel van die embleem is om die dorp Mosselbaai se naam aan te dui en nie om byvoorbeeld Groot-Brakrivier se naam te vervang nie. Groot-Brakrivier is soos Danabaai en KwaNonqaba en ander gebiede dus deel van Mosselbaai.
Die totale koste beloop ongeveer R545 000 en dit is so aangedui in die raad se kapitale begroting.
Wilhelm de Wet (plaaslike sakeman in Groot-Brakrivier) se opinie in oorleg met inwoners en sakemense
Die kwessie van die aanbring en verandering van plekname is soos almal bewus is ʼn sensitiewe kwessie wat met baie emosie gepaardgaan. Die vraag is altyd of dit die koste regverdig, en of dit die goed- of afkeuring van betrokke gemeenskappe of groepe dra. Die verwarring wat dit meebring en ook die invloed op besighede wat aan ʼn dorp se naam gekoppel is, moet in ag geneem word.
Waar ʼn dorp soos Groot-Brakrivier, wat reeds in 1859 deur die welbekende Searle-familie gestig is, en ryk is aan sy eie tradisies en geskiedenis, geraak word deur die aanbring van dorpsnaamborde, behoort daar met uiterse omsigtigheid en deurlopende konsultasie met die gemeenskap gehandel te word. Dit het nie gebeur nie.
Die Mosselbaai-struktuur en -naambord het onvoorsiens midde in die dorp verrys sonder vooraf kennisgewing of raadpleging met die inwoners van ons dorp. Die algemene gevoel van inwoners is dat die aanbring van die Mosselbaai-embleem en -naambord in ons dorp ʼn miskenning van die identiteit, karakter en geskiedenis van Groot-Brakrivier is.
Die bedrag wat spandeer is om Mosselbaai se naam in ons dorp op te rig, word as buitensporig en ongevraagd gesien. Daar is verskeie projekte tot voordeel van die gemeenskap waarop dit eerder spandeer kon word. Die plaaslike AGS Kerk (met 1 500 lidmate) smeek reeds jare vergeefs vir die teer van die pad voor hul kerk, dat hul nie wanneer dit reën met moddervoete die kerk hoef in te gaan nie.
Die struktuur te Groot-Brakrivier kan ook nie vergelyk word met dié te Hartenbos en Danabaai wat letterlik buite die dorpe op die ingangsroete geplaas is nie. Die Groot-Brakriver-struktuur staan in die dorp en lei tot verwarring oor in watter dorp jy nou eintlik is.
Na dit alles gesê is, aanvaar ʼn mens dat Mosselbaai Munisipaliteit ter goeder trou die estetiese aansig van Mosselbaai-omgewing wou verbeter. ʼn Proses van openbare konsultasie en kommunikasie sou emosie rondom die kwessie verlaag het.
Dit sal baie help indien Mosselbaai Munisipaliteit sy bona fides teenoor Groot-Brakrivier se inwoners toon deur ordentlike verwelkomingsborde in die dorp aan te bring. ʼn Proses wat hopelik teen laer koste en met behoorlike konsultasie met die inwoners sal plaasvind.
Heleen Coertzee, sakevrou (Mosselbaai tot George)
Vir my het die embleem geen estetiese waarde nie en skep dit die indruk dat dit die dorp Mosselbaai en nie Groot-Brakrivier is nie. Toeriste of besoekers gaan nie noodwendig weet dat dit eintlik beteken dat Groot-Brakrivier deel van die munisipaliteit van Mosselbaai uitmaak nie (terloops, van ons buitelandse vriende het ons op hierdie wanindruk wat die simbool skep, gewys).
Kon die halfmiljoen rand (R545 000) wat dit gekos het, nie baie beter aangewend word om werkloosheid te bekamp of selfs verdienstelike sake soos die onlangse jeugsokker-inisiatief, kindersorg ens. te help befonds nie?
Groot-Brakrivier het ʼn groter behoefte aan ʼn netjiese, goed versorgde hoofstraat, dalk breër om fietsryers en wandelaars te akkommodeer (uiteraard kan dit ook uit ʼn toeristeoogpunt van waarde wees).
Pauline Richards, De Kaap Eiendomme/Estates
By De Kaap het ons met opgewondenheid die nuwe “vlae” wat Mosselbaai se kenmerkende teken is, sien gestalte kry in Groot-Brakrivier. Ons is baie trots op ons Munisipaliteit wat so ʼn groot bydrae lewer. Dit maak my werk en bemarking van eiendomme soveel makliker as ek met gemoedsrus kliënte in ons dorp en omgewing kan rondneem, wetende dat dienslewering en die diens vanaf die departmente boubeplanning, rekeninge en stadsbeplanning van die hoogste gehalte is. Mense van buite staan verstom hieroor en oor die tariewe. Ons is voorwaar dankbaar vir die herstel van paaie, dat ons groen areas onderhou word, dat daar beplan word vir ons toekoms. Dankie, Mosselbaai Munisipaliteit, dis ‘n voorreg om saam met julle te werk.
Slotgedagtes
Tydens ʼn onlangse besoek aan die Vrystaat neem ek die volgende waar: spreekwoordelike berge swartsakke vol vullis wat nie verwyder word nie op die straathoeke. Hierdie sakke het die skatkis geword vir entrepreneurs wat met inkooptrollies hul fondse wegdra. Die sypaadjies is so verwaarloos dat dit soos grasvelde uitsien waaruit daar enige oomblik ʼn leeuwyfie met haar welpies kan spring. Bedelaars op soek na etlike sente beklemtoon die boodskap van wanhoop. Straatverkopers nader jou kar intimiderend terwyl jy in vrees wag dat die robot groen raak.
Alhoewel dankbaar vir ʼn Munsipaliteit wat funksioneer en verrekenbaar is wanneer dit kom by die aanwending van belastingbetalers se gelde, sal elkeen graag wil glo dat sy of haar insette net soveel tel as sy beursiewaarde. Maar dit beteken ook doelgerigte betrokkenheid en deelname op allerhande vlakke, of dit oor politieke, ekonomiese of enige ander tipe ontwikkeling sou gaan.
The Post nooi lesers uit om hul menings oor die aangeleentheid te deel deur aan The Post ʼn epos te stuur: editorial@thepost.org.za of op facebook:@ThePostGardenRoute hul menings te lug.

Related posts

Groet die Meerkat met Sonsopkoms

Heleen Coertze

The stranding of a whale

Tersia Marais

GB WALK 2023

Laurinda Smit

DOUBLE INSURANCE – STROKE OF GENIUS OR WASTE OF MONEY?

Herman Swanepoel

EARTH DAY AND FRANCIS

Elsa Davids

’N TUIN VOL VOËLS!

Christaan Viljoen