20 C
Mossel Bay
23rd Mar 2023
Community & LivingNews

NOUDAT EK DOOD IS, MOET JULLE LUISTER!

Van die mees interessante verskynsels is testamente. Dit kom vanaf persone gevul met die begeerte om voor te skryf en te regeer oor sy/haar nasate en te bly vasklou aan alle beheer om voor te skryf, nadat die tyd daarvoor verby is.

Napoleon Bonaparte (dood in 1821) het versoek dat sy hare by sy dood onder sy vrinne verdeel word. Dit blyk egter dat Napoleon nie veel hare gehad het om uit te deel nie, en was die voordeel meer van ’n wolhaarstorie.

Die eienaardige Bowman-familie van Vermont in die VSA het geglo in reïnkarnasie. Om daarvoor voorsiening te maak het mnr. Bowman in sy testament bepaal dat daar elke aand uit ’n trustfonds ’n volledige ete deur die huiswerkers vir hom en sy gesin voorgesit moet word, vir wanneer hulle uit die dood terugkeer. Die werkers het getrou sy wense nagekom en vanaf 1821-1950 toe die trustfonds uitgeput is, is die leë tafel gedek en geregte voorgesit.

Jonathan Jackson het in 1880 geld nagelaat om ’n kathuis te bou vir sy katte. Daar was tot ’n ouditorium waar hulle kon luister na klassieke opvoerings en ’n spesiale gimnasium en slaapkamer vir kattemaai. Die dak is ook veilig ontwerp om ten minste nege lewens lank te hou.

Harry Houdini (oorlede in 1926) se vrou moes getrou volgens sy wense elke jaar ’n seance bywoon waarin hy haar sou besoek. Hy het blykbaar sy naam gestand gedoen en elke jaar ontsnap van die gebeurtenis.

Op ’n meer ernstige noot, is dit uiters belangrik om toe te sien dat ’n testament prakties uitvoerbaar is. Dit sou dus onprakties wees om jou strandhuis aan jou sewe kinders te bemaak wat almal oorsee bly. Mede-eienaarskap is die moeder van alle twis, en sou dit beter wees om te bepaal dat die huis verkoop word en die opbrengs gelykop verdeel word.

Die vereistes van ’n geldige testament is basies:

  • Die dokument moet onderteken word deur die testateur/testatrise.
  • Die testament moet op die einde van die dokument ten volle geteken word en nie bloot onderaan die laaste bladsy nie.
  • Elke bladsy moet onderteken word deur die eksekuteur. Die testateur/testatrise moet die testament teken in die teenwoordigheid van ten minste twee getuies wat almal saam met die testateur/testatrise by ondertekening teenwoordig is. Die getuies moet almal die testament onderteken in die teenwoordigheid van mekaar en die testateur.

Die testateur/testatrise moet ouer as 16 jaar wees om ’n geldige testament op te stel, en ouer as 14 om as getuie te dien. Die wet maak voorsiening vir gevalle waar ’n persoon dit fisies onmoontlik maak om ’n testament te teken.

Elke persoon wat as getuie teken word gediskwalifiseer om enige voordeel uit die testament te ontvang of om as eksekuteur op te tree.

Wees korrek en prakties met die opstel van jou testament. As jy jou kop neergelê het, is die laaste kans om prakties daaroor te besin finaal verby.

Related posts

Water Water Everywhere- and Nowhere!

Mike Holland

All-time favourite plants along the Garden Route

Lydie Terblanche

Book Review: The Last Elephants

Laurinda Smit

Manneloog

Laurinda Smit

WAS JULLE HANDE EN SIT IN JULLE TANDE!

Dine van Zyl

’N KYKIE NA KLEUR DEUR ’N CHINESE LENS

Lydie Terblanche