12 C
Mossel Bay
5th Jun 2023
Community & LivingGardeningNature & Nurture

NOVEMBER IN DIE TUIN

Ons reënseisoen het nou verder noord begin skuif en tuine, veral dié met sandgrond, behoort stewige deklae van 5-8 cm te kry en gereeld diep natgemaak word. Somerblommende plante groei nou sterk en kan beter bos en meer blomme produseer indien die groen plante teruggeknyp word. Kleurvolle vullers soos daglelies en agapante het nou ook gereeld bemesting nodig. Voeding met ’n hoë kaliuminhoud sal hulle blomme sterker en meer volop maak.

Rose

Verwyder onderstokgroei en waterlote (waterlote is die sterk, dik, nuwe groeilote wat bokant ente uitgroei; dit het gewoonlik ’n rooierige kleur). Die eerste blomdrag is nou verby en behoort tot vyf blare onder knoppe teruggesnoei te word (onthou dit ook wanneer rose vir die vaas gepluk word). ’n Gereelde spuitprogram teen swamme en ander plae behoort elke drie tot vier weke opgevolg te word. Gee elke plant sowat 60 g 8:1:5 of organiese ekwivalent. Maak gereeld en deeglik nat – twee keer per week indien dit nie reën nie. ’n Dik deklaag van dennenaalde, ou lusernstrooi of boombas is noodsaaklik om rose se “voete” koel te hou. Bywortels loop net onder die grond se oppervlak en kan deur die son in warm grond gebrand word. Rankrose soos banksias en Dorothy Perkins kan nou nadat die blomme af is, sterk teruggesnoei word. Banksias wat tydens ’n  “groot” snoeiproses in Julie gesnoei is, sal baie min of glad nie in die vroeë lente blom nie.

Ander plante en struike

Uitgeblomde lenteblommende plante kan nou komposhoop toe gaan. Pak groen en droë plantmateriaal in lae op die komposhoop om goeie kompos te verseker. Onthou om die komposhoop of houer gereeld te deurlug. Vroeë lenteblommende struike soos al die meiblomme (Mayflowers), forsythias en deutzias se snoeireste kan alles hulle pad komposhoop toe vind. Hierdie struike sal nadat dit sterk gesnoei is baie beter in die nuwe seisoen blom. Krismisrose (hydrangeas) behoort nou elke twee weke aluminiumsulfaat te kry en daarna deeglik natgemaak te word. Onthou weer om ’n deklaag teen vogverlies toe te dien.

Hibiskusse

Na hierdie September en begin-Oktober se reën, kan struike se blare vergeel. Afhangend van dreinering, kan dit ’n reaksie op te veel water wees. Indien dit ’n voedingstekort is, kan struike met 3:1:5 of 8:1:5 reggeruk word.

Groente

Gereelde water en bemesting met 2:3:4, 3:1:5 of die organiese ekwivalent sal sorg dat groente goed groei en smaaklik is. Oes gereeld en verleng so die draperiode. ’n Wenk om ruimte te bespaar – laat lemoenpampoentjies teen ’n heining oprank. Plant blaarslaai tussen boontjies wat stadiger groei. Tamaties behoort vroegtydig gestut te word en ’n goeie deklaag tussen plante te kry. Sodra vrugte begin vorm, dien 3:1:5 kunsmis of ’n organiese ekwivalent toe.

Related posts

LIGHTS & LANTERNS FESTIVAL

Annlerie van Rooyen

NAVIGATING THE YES/NO PARADOX

The Growing Bolder Digital Digest

SKATTE VIR JOU HARTSKAMER

Laurinda Smit

ROL VAN BELANGHEBBENDES IN OMGEWINGSIMPAKSTUDIES

Hanlie Hattingh

THE CONSERVATION CONUNDRUM

Scott Thomson

TAKE THE TIME TO MAKE A CLOCK

Andrea van Eeden