Voel dit partykeer vir jou ook asof die wêreld ’n bietjie te vinnig verander? Geen wonder nie, want navorsers sê dat die mensdom se kennis op die oomblik elke 12 maande verdubbel – en dat dit nog verder gaan versnel! In 1945 het hierdie proses 25 jaar geneem. Vandag kan jy skaars jou oë twee keer knip of daar is iets nuuts onder die son. Slimfone raak al hoe slimmer, motors kan hulself parkeer, ’n robotstofsuier weet self waar om te suig, 3D-flieks is algemeen, hommeltuie kan pakkies aflewer.
Die gevolg van hierdie vinnig veranderende wêreld is dat dinge wat ’n dekade of drie gelede deel van ons lewens was, nou amper vergete is. Speel gerus hierdie speletjie (wanneer ons weer mag saamkuier) deur te kyk wie die meeste goed kan opnoem wat nou net herinneringe is: videomasjiene, Brownie-kameras, kurkproppe, kassetspelers, Tippex, lapdoeke met hulle doekspelde …
Daar was ’n tyd toe ’n mens nie jou lewe kon indink sonder ’n tjekboek nie, maar is daar vandag nog êrens ’n laerskoolkind wat weet wat ’n tjek is? Dan is daar die faksmasjien. Ek kan nog onthou hoe dit my verstom het toe ek vir die eerste keer ervaar het dat ’n mens met die druk van ’n knoppie ’n dokument enige plek in die wêreld kon stuur. Vandag ken ek niemand wat nog fakse stuur nie.
Ek ken ook nie meer iemand wat ’n telefoonlandlyn gebruik nie. Selfone het deel van ons asemhaling geword. Nie dat dit noodwendig alles goed is nie. Met ’n landlyn kon jy darem so nou en dan die telefoon “ontsnap”, maar nou is daar geen wegkomkans nie. Vroeër het ek tientalle telefoonnommers uit my kop uit geken. Vandag ken ek skaars my eie nommer!
Wie onthou nog die genot wat inryflieks ingehou het? Of ’n inry-kafee? Dit wil darem lyk asof die korona-virus een goeie ding tot gevolg het: inryteaters word weer mode omdat dit maklik versoenbaar is met die hou van sosiale afstand.
Natuurlik is hierdie veranderinge vooruitgang en moet verwelkom word, maar dit hoef nie te keer dat mens darem so nou en dan ’n bietjie nostalgies word nie. Die belangrikste vraag is egter: Watter goed rondom ons gaan in tien jaar van nou af ook op die uitgediende lysie beland? Dalk ’n speletjie vir ’n ander aand …