Die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns 22 van 2019 (“Die Wet”) hou diepgaande gevolge in vir eiendomsagente wat sonder ’n getrouheidsfondssertifikaat handel. Dié Wet het vanaf die 1ste Februarie 2022 in effek gekom en vervang die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede, 112 van 1976. Die nuwe Wet beoog om die ou Wet te verbreed en te moderniseer en ’n gesonde eiendomsmark in Suid-Afrika te bewerkstellig. Die Wet dien as verwysingsraamwerk vir eiendomspraktisyns wat die manier waarin hulle vir en namens potensiële verkopers en verhuurders optree, reguleer en die vereistes waaraan voldoen moet word voordat hul kommissie verdien, uiteensit.
Die definisie van ’n Eiendomspraktisyn word in Artikel 1 van die Wet uiteengesit as ’n versamelnaam vir die verskillende rolspelers in die eiendomsmark uit verskillende sektore. Die term “eiendomsagent” word soortgelyk gedefinieer in die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede. Vir die doeleindes van hierdie artikel word die fokus op eiendomsagente in die tradisionele sin van die woord as eiendomspraktisyns geplaas.
Die Wet het voor die afkondiging van die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns ook bepaal dat eiendomsagentskappe ’n getrouheidsfondssertifikaat benodig om te mag handel. Artikel 47 van die Wet bepaal nou egter dat dit nie voldoende is vir die agentskap om bloot ’n sertifikaat te hou nie, maar dat individue in hul amp as eiendomsagente, direkteure, trustees, vennote en ander materiële rolspelers in eiendomstransaksies, ook verplig is om ’n getrouheidsfondssertifikaat te bekom en ten toon te stel. Die Wet bepaal verder dat kontrakte, ooreenkomste en mandate wat op die eiendomsmark betrekking het die voorgeskrewe bewoording, wat verseker dat die agent in die besit van ’n getrouheidsfondssertifikaat is, bevat:
“[Naam van Eiendomspraktisyn] waarborg hiermee die geldigheid van sy/haar/die onderneming se getrouheidsfondssertifikaat soos op die datum van ondertekening van hierdie ooreenkoms.”
In terme van Artikel 48 van die Wet word eiendomspraktisyns verbied om sonder ’n geldige getrouheidsfondssertifikaat te handel. Die Wet skryf verder voor dat eiendomspraktisyns in oortreding hiervan nie geregtig op enige vergoeding of kommissie vir hul diens in die eiendomsmark sal wees nie en dat die party waarvan kommissie verhaal is, dit sal kan terugeis. Die onus rus verder op aktevervaardigers om te verseker dat die betrokke agent ’n geldige getrouheidsfondssertifikaat in plek het voordat kommissie deur die aktevervaardiger aan die agentskap uitbetaal word. Indien die aktevervaardiger kommissie uitbetaal sonder dat die getrouheidsfondssertifikaat in plek is, kan die aktevervaardiger strafregtelik vervolg word. Die doel van die getrouheidsfonds is om individue wat deur ’n eiendomspraktisyn ingedoen is en/of geldelike verlies gely het as gevolg van bedrog of die wanbestuur van trustgeld deur eiendomspraktisyns, te vergoed. Die Wet voorsien dat ’n klag teen ’n eiendomspraktisyn by die Regulerende Owerheid vir Eiendomspraktisyns gelê kan word soos per die voorgeskrewe formaat.
Die verantwoordelikheid van beide eiendomspraktisyns en aktevervaardigers om te verseker dat die verpligte getrouheidsfondssertifikaat met elke eiendomstransaksie in plek is en die nagevolge van die oortreding hiervan, is slegs ’n druppel in die emmer van die veranderinge wat deur die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns teweeggebring word. Die Wet bied meer beskerming as die Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede deurdat eiendomspraktisyns gedwing word om die nodige kwalifikasies te bekom en om hulself met die nodige kennis toe te rus om hul eie asook die belange van hul kliënte te beskerm. Dit is van kardinale belang dat eiendomspraktisyns die omvang van die Wetsontwerp op Eiendomspraktisyns verstaan en die gevolge van die oortreding daarvan verstaan.
.