Vingerhoedjies, irisse, delfiniums, akeleie, lupine en papawers toor by ons ’n prentjie van ’n Engelse “Country Garden” op. Hierdie plante is almal hier by ons ook ’n moontlikheid gedurende Oktobermaand. Nie net is Oktober veronderstel om die mooiste, mooiste maand te wees nie, maar daar is ook baie werk nodig in die tuin. Die lente (Augustus/September) se jaarplante wat reeds uitgeblom is, moet vervang word. Reën kan dalk skaarser wees. Dik deklae om soveel moontlik vog te behou, is noodsaaklik. Ideale deklae behoort tussen 6-8 cm dik te wees omdat ligte en skrapse deklae deur die suidoos weggewaai sal word.
Tuintake
- Jaarplante en grondbedekkers behoort nou bemes en gereeld gesnoei te word. Ons is soms geneig om grondbedekkers wat goed gevestig is, heeltemal te vergeet en af te skeep.
- Kry beddings gereed vir somerkleur. Berei grond goed voor: strooi genoeg kompos en fosfaat en spit die beddings vurkdiepte om. Saai Jakobregoppe (zinnias), kosmos, afrikaners en randakkers met heuningblommetjies (alyssums) direk in die grond. Hierdie seisoenplante kan ook as snyblomme dien en gaan die hele somer kleurplesier verskaf. Gladiolusse vir die Kersfeestafel kan nou in goed verrykte sandgrond geplant word (hulle neem 100 dae vanaf aanplanting tot volle blom).
- Meerjarige plante soos Michaelmas-madeliefies en krisante wat nie in die herfs verdeel is nie, kan nou in goed voorbereide grond uitgeplant word. Kompos behoort ‘n kruiwavol per vierkante meter toegedien te word.
- Ons wil almal graag asuurblou krismisrose in ons tuin hê. Dit is haalbaar – gee plante sodra blomme begin verskyn gereeld aluminiumsulfaat en bedek hulle “voete” met ’n deklaag kraalmis. Ons grond hier by die kus is meer suur as in die binneland. ’n Deklaag dennenaalde bo-oor kraalmis sal die diepblou nog verder aanhelp.
Struike
- Oktobermaand se struike bring hulle eie unieke geure na die tuin. Yesterday, today and tomorrow (brunsfelsia) en katjiepiering (gardenia) sal naby die voordeur of langs die patio sorg dat hulle heerlike geure deur die huis versprei. Hul geure is baie sterker indien hulle nie kwaai namiddagson kry nie.
- Tuiniers sal hierdie maand steeds baie plesier uit ons inheemse struike soos heide, speldekussings en tolbosse kan put. Die meeste proteavariëteite is gewoonlik al uitgeblom en kan liggies (indien nodig) teruggesnoei word. Gee hierdie plante ook ’n goeie deklaag mits daar nie gevestigde grondbedekkers onder hulle groei nie.