Ek is ’n onderwyser en het al vir alle ouderdomsgroepe skoolgehou, behalwe Graad 11 en 12. Ek het vier kinders en ons het alle tipes skole en onderrigmodelle beleef: die beste skool in ’n stad met ’n plattelandse atmosfeer, die beste skool in die platteland, seunskole, gemengde skole, koshuisskool ver van die huis af, tuisonderrig of “home-schooling”, en helaas ’n skooltjie met skaars ses kinders in ’n graad.
As ervare onderwyser en ma van vier, wil ek almal verseker: verlore onderrigtyd laat nie jou kinders met ’n agterstand nie! Akademie maak slegs ’n deel uit van die vaardighede en “gewoontes” wat tot sukses lei, en jou opvoeding tuis gaan jou kind waarskynlik meer baat as onderrig elders.
Jou kind gaan vinniger vorder in ’n halfuur saam met jou as in drie uur saam met 30 ander wat die onderrigproses rem. Ek het my kinders ’n ruk lank tuis onderrig en my tweede oudste seun het matriek twee jaar voor sy maats voltooi. Tuisskolers word ook aangeraai om te “de-school”: ontspan ’n maand vir elke jaar wat jy in die skool was! Glo om ontslae te raak van stelsels waarin ons vasgeval raak. My oudste was 10 jaar op skool, en het behoorlik 11 maande “afgevat”. Ek het bekommerd gewonder: “Wat het ons aangevang?”, maar later dié wonderlike aspek van tuisskool beleef: die proses om van “ek moet” na “ek wil” te verander. My seun het self besluit: “Ek wil fiks wees, ek wil navors, ek wil ’n derde taal aanleer.” Kort voor lank was hy gereeld in die gimnasium en het hy homself bekwaam in sy belangstellingsveld. Vandag is hy in ’n eerstewȇreldland by ’n wȇreldklas-weermag.
Tuisskool was soms wel eensaam, maar niks keer jou om maats oor te nooi, saam op uitstappies te gaan en deel te word van tuisskoolgroepe elders nie. Tog bly ’n skool, die hartklop van die samelewing, ’n wonderlike plek. Die ideaal vir tuisskool is om ’n paar gesinne te wees wat deel in die proses. Hoofstroom-onderwys en tuisskool is egter nie een reg of verkeerd nie; ’n mens moet net die voor- en nadele van jou keuse raaksien en reg bestuur.
Die huidige onderwysstelsel bekommer my … die dae word al hoe langer, pouses al hoe korter, klasse al hoe groter, basiese onderrigstandaarde al hoe laer, terwyl kinders al vroeër, beter en vinniger moet presteer. Hulle word te dikwels pionne om balkies en bekers in te win en prestasie word belangriker as uitnemendheid. Die onderwysers se lading word al meer en die agting vir hulle al minder, om van die kurrikulum nie eers te praat nie. My broer is ’n sielkundige – hy sê die mense wat hy die meeste beraad, is polisiemanne en die tweede meeste is onderwysers.
Daarenteen bied grendeltyd vir ons soveel rus en vrede. Gesinne bak weer koekies, maak tuin en besef die waarde van “om te wees”. Dalk is ek as ouer, na alles, die beste een om my kind te wys hoe. My kind het immers min of meer dieselfde potensiaal, gene, intelligensie en belangstellings as ek. Dalk is ’n groentetuintjie, ’n bredie wat stadig prut, ’n ma wat sorg vir haar huis en ’n kind wat genoeg kans kry om te speel glad nie slegte idees nie. Steeds bekommerd jou kind raak agter? Ontspan. Jy doen beter as toe jou kind op skool was. Doen maar wat die juffrou vra, maar jy gaan ’n groter belegging maak as jy in hierdie tyd saam met jou kinders stories lees, bordspeletjies speel of in die sonnetjie sit en ’n voëltjie dophou.
Gun jou kind die tyd om uit die “rat race” te kom. Skool het in elk geval ontstaan as gevolg van die Industriële Rewolusie. Hulle het ’n groot gros soldaatjies gesoek wat donkiewerk in fabrieke moet doen, vandaar die in-rytjies-stap en almal eenders aantrek en siedaar, kreatiwiteit is by die deur uit!
Ek hoop die wêreld slaan ag op hierdie groot “Ontwaking”. As die skool weer begin, was almal ingeperk; almal is dus “agter”, maar in my oë eintlik “voor”. Mense word gedwing om weer te “leef” en nie deur stelsels gedryf te word nie.
Waar begin ouers met tuisonderrig? Besoek Suid-Afrika se tuisskoolvereniging by www.tuisskolers.org. Voornemende tuisskool-ouers word aangeraai om ’n seminaar by te woon en daarna ’n persoonlike konsultasie te boek. Daartydens sal ’n lys van kurrikulums verskaf word wat ouers kan navors om ’n ingeligte besluit te neem. Alles is op die webtuiste beskikbaar.
Artikel verkort uit https://www.facebook.com/jeannette.smit.77/posts/10157270947822864