23 C
Mossel Bay
1st December 2023
Community & LivingNature & NurtureTourism & Travel

ONS VIS RAAK WEG!

Ek praat onlangs met Rita Burns*, ’n slim-kwaai geleerde dame oor ons dalende visgetalle, en sy looi my met ’n paar moeilike kwessies.

“Daar is verskeie bydraende faktore wat ons visgetalle laat kwyn,” sê sy, “en elkeen het meriete. Ons moet met dieselfde passie oproer teenoor die buitelandse ‘trawlers’ wat snags ons riwwe kom stroop. Ons sluit ons eie mense toe as hulle ’n melkboom afsaag terwyl ons hulpeloos toekyk hoe die uitlanders ons vis stroop.” Sy vra: “Waar is Natuurbewaring en Seevissery, want daai beskermde melkboom gaan moeilik ’n kerrievispot vervang as die vis opdroog.”

Sy hoor gereeld hoe individue viskwotas oorskry, en ek kry ’n bietjie skaam sonder rede.

Vir die bootmanne laat loop “Rita die Ingenieur”: Bootankers vereis glo ’n minimum lengte ketting teen die anker om sodoende die anker beter te laat haak. Destyds het die manne se armspiere die anker sonder probleme reguit boontoe opgetrek, maar deesdae ry die kaptein sy anker los. Sy vra my: ”Sleep daardie stuk ketting op die rif of struktuur nie ’n halfmaan plat voordat die ankertou voldoende oplig en loskom nie? Indien wel, beteken dit elke keer as ’n bootanker losgery word dat nog ’n stuk halfmaan-koraal van 3-5 m beskadig is?” Ek is nie goed in wiskunde nie, en daar trek Rita los met ’n retoriese woordsom waarop ek geen antwoord het nie:

“Indien 30 bote ’n dag net in die Mosselbaai-omgewing slegs 4 keer skuif, sleep hulle kettings ongeveer 720 m² (30 bote x 4 keer x 6 m²) se rif, koraal of struktuur plat per dag. Moet die kettingdeel nie dalk vervang word met ’n enkelgewig nie?”

Rita dink met heimweë aan die talle groot kabeljoue wat haar pa destyds gevang het. Sy hoor daar is voorstelle om kabeljouhengel en die verbruik daarvan in ons area te sluit vir 2 jaar. “Indien wel”, vra sy, “gaan dit geld vir kommersiële bote, buitelanders, sporthengelaars, bestaanshengelaars en restaurante ook?”

Rita sê haar pa het goeie wenke. Hy het oorgeslaan na sirkelhoeke, aangesien dit visse gewoonlik in die hoek van die bek haak, terwyl J-hoeke enige plek kan haak. Hy vervang ook al sy kunsaas se drie-angelhoeke met enkelhoeke sodat hy vis makliker kan vrylaat.

Uiteindelik glimlag Rita en haal sowaar iemand slimmer as sy aan: “Navorsing toon dat aardverwarming die grootste rede is vir ons dalende visgetalle.” Sy reken ons beste wapen is om elkeen saam te werk, minder plastiek te gebruik, na te lees oor wenke vir energiebesparing soos sonpanele en dan daadwerklik te help met herwinning van afvalstowwe.

Moet asseblief nie vir Rita kruisig nie. Ek besef sy is eintlik net ’n mamma en haar passie is dat haar kleinkinders ook ’n vet kabeljoutjie kan vang.

*Skuilnaam

Related posts

Lights & Lanterns 2019

Laurinda Smit

Operation Estuary: Midbrak Conservancy

Matthew Thorpe

Holiday times!

Wendy Wiles

THE BEAUTY OF OUR FLORA

Janine Pereira

ALOE THERE!

Megan Mackenzie

MAPUNGUBWE’S KANNIEDOOD TRAIL

Mariëlle Renssen