18 C
Mossel Bay
17th Nov 2019
Community & Living Nature & Nurture Tourism & Travel

Ontdekkingsreise

Op vyfjarige ouderdom het ek begin lees en een van my eerste missies was om al die stories van Kinders van die Wêreld en Skatkis te lees. Albei reekse van begin tot einde. Dit was die begin van my ontdekkingsreise. Deur die jare het dit nooit verander nie – hierdie reise, soeke na die onbekende, die insameling van kennis. ’n Ou vriend het my bome se name geleer, ʼn ander se pa die streeksname van grasse. In Kosibaai het ons eenkeer vir Martin Filmer ontmoet wat die belangstelling in spinnekoppe verder aangevuur het. Daar was navorsing oor kruie-gebruike, ‘boere’ rate, daar was ook die geleentheid om vir maande deur Namibië te reis vir ʼn dokumentêr oor die San. Dit is gevolg met reise in ʼn geel Cruiser deur Afrika en natuurlik reise na verre lande oor die waters, weg van die kontinent. Deurentyd het die rekenaarspeletjies Colonization en Civilization gevolg. Dit was (en is steeds) eindelose ure van nie net vermaak nie, maar ook leer. Leer van die verskillende mense oor die aardbol se geskiedenisse, gelowe, gebruike, kulture, oorloë, ontdekkings en alles wat daarmee gepaard gaan. Moenie vergeet van films waarmee mens na die maan of Mars of ander planete kan reis nie.
Dit alles het egter nou onlangs vir my in die ontdekking van die ou stasietuin in Groot Brak, gekulmineer. Op een plek, hier op ons agterstoep, kan die ontdekkingsreise voortgesit word. Soos wat die indringerbos en dekades se verwaarlosing verdwyn, so kom die nostalgie van treinreise, die geskiedenis van stasies, die herontdekking van verskuilde artefakte, die wonder van die natuur, weer na vore. Trappe lei na bankies, paadjies loop verby poele, agter groot bome is die oorblyfsels van watervalle (op my eerste dag daar het ons op ʼn vervalle hout wensput afgekom). Plante van oral in die land word ontdek wat deur treine hierheen gebring is, inheemse grasse word blootgelê. ʼn Plat muntstuk langs die spoor roep stories op van lank gelede, ander tye, ander verwagting en ander prioriteite.
Vir my klik dit al die boksies. Gee dit weer die gevoel van avontuur en ontdekkings, soos ʼn argeoloog of eertydse seevaarder of toekomstige ruimtevaarder. Om ook deel te wees van hierdie ontdekkingsreis, of om net ʼn bydrae te lewer in ons omgewing of net vir ʼn geleentheid vir die noodsaaklike hande-in-die-grond, kom val in by die Groot Brak stasie, elke tweede Saterdag van die maand. Kom kuier ook gerus saam met ons Bewaar-are mense tydens die Augustus se Midbrak Tuinbouklubbyeenkoms – dalk is dit ook vir jou – die begin van nuwe ontdekkingsreise.

Related posts

Great Brak River has Dragons

Scott Thomson

Motor Rubriek: Mitsubishi Eclipse Cross

Rosalyn van Zyl

Flowers that bloom in the aftermath of devastating fires

Wendy Wiles

Of shoes and ships and sealing wax…

Wendy Wiles

Laughter is the Best Medicine

Annlerie van Rooyen

Great Brak River Youth Café launches After Hours Programmes

Aa'isha Alexander

Leave a Comment