Groot opgewondenheid heers onder die Outeniqua Chair Challenge (OCC) se deelnemers en organiseerders, wat reeds maande lank beplan aan vanjaar se byeenkoms – die grootste rystoelgeleentheid van sy soort in Afrika.
Carpe Diem Skool dien oudergewoonte as sentrum waar ’n 5 km-pretloop en wedrenne op Saterdag 15 Oktober oor verskeie afstande afskop en eindig. Roetes sluit in ’n 42,2 km-marathon, 21,1 km-half-marathon en 10 km- en 5 km-wedlope. Carpe Diem fasiliteer ook vooraf registrasie en ’n amptelike openingsfunksie op Vrydag die 14de.
Hierdie George-instelling lok nie net deelnemers van regoor SA nie, maar ook atlete vanaf buurlande soos Zimbabwe, Namibië en selfs Ghana.
Pieter du Preez is ’n OCC-steunpilaar en het nog elke byeenkoms sedert 2005 bygewoon behalwe toe hy in 2019 terselftertyd moes deelneem aan die UCI Para-cycling-wêreldkampioenskappe. En ’n wêreldkampioen is Pieter inderdaad: hy was die enigste Suid-Afrikaanse para-olimpiese atleet wat in die rolstoelafdeling ’n medalje vir sy land verower het. En hy sien besonder uit na sy 16de ervaring van OCC-kameraderie.
Pieter vertel sy gesin, sy geloof, mede-gestremdes en menige sportheld dien as motivering. “Dan is daar ook natuurlik die wil om te wen. Maar ek sê altyd mense oor die algemeen voorsien my grootste aansporing. Ek inspireer dalk vreemdelinge met wie ek paaie kruis. Hulle wys dit gereeld uit en bied meestal aan om te help met iets. Hierdie terugvoer en hulpvaardigheid motiveer my weer om voluit te leef, want dit maak so ’n positiewe impak op ander.”
Pieter sê buiten dat George ’n lieflike dorp is, bewonder hy die inwoners en stadsvaders vir hul bereidheid om jaarliks gasheer te speel vir hierdie ongelooflike geleentheid ten bate van gestremdes. “Die OCC gaan slegs in ’n klein mate oor professionele atlete. Die genot wat dit bied vir deelnemers in al die ander kategorieë is onmeetbaar. Min mense sal ten volle kan verstaan wat hierdie geleentheid – om een keer per jaar aan iets so groots te kan deelneem– vir almal beteken.”
Vir meer besonderhede, raadpleeg: https://georgeocc.co.za/