Voorvalle van hondaanvalle en hondbytbeserings is aan die toeneem in Suid-Afrika. Die jongste tragiese en fatale gebeurtenis het op 4 April 2019 in Ermelo afgespeel waar die 20 jarige Ruan van Staden deur twee van sy pa se bull mastiff honde verskeur is. Suid Afrika het van die hoogste hondaanval statistiek ter wereld wat waarskynik verband hou met die aanhou van groter agressiewe honde as ‘n veiligheidsmaatreel teen inbrake. Dit is uiters belangrik dat beide die slagoffers en hondeienaars die beginsels van aanspreeklikheid by hondaanvalle verstaan.
STRENG AANSPREEKLIKHEID
Ingevolge die reg in Suid-Afrika, kan ‘n oortreder wat skade veroorsaak het, gewoonlik slegs aanspreeklik gehou word indien hy/sy sy met skuld (opsetlik of nalatigheid) opgetree het. Met verloop van tyd het gevalle van aanspreeklikheid sonder skuld oftewel streng aanspreeklikheid na vore gekom, en is dit later erken in die Suid-Afrikaanse howe. In gevalle waar skade gely is deur n hondbyt en ongeag of die eienaar enige skuld dra, kan hy/sy aanspreeklik gehou word vir die skade veroorsaak deur sy hond.
Vereistes vir streng aanspreeklikheid
o Die verweerder moet die eienaar van die hond wees.
o Die hond moet ‘n huisdier wees en nie n wilde dier nie. Beeste, perde, selfs bye is al onder huisdiere geklassifiseer.
o Die hond moes in stryd met sy aard as n mak huisdier opgetree het, wanneer hy iemand gebyt het. Dit behels dat objektief gekyk moet word om vas te stel of die dier se gedrag in stryd is met die gedrag wat mens normaalweg sou verwag. Dit sal ’n verskoning wees indien die hond weens eksterne spanningsfaktore, soos uit vrees vir weerlig of ‘n aardbewing iemand gebyt het, en ook as daar uittarting van die hond was,
o Die slagoffer moes wettig teenwoordig wees op die plek waar die voorval plaasgevind het. ‘n Indringer of dief wat op ‘n eienaar se erf deur die eienaar se hond gebyt word, sal dus nie suksesvol kan eis nie..
NALATIGHEID OF OPSET
Benewens die feit dat die eienaar van n hond skuldloos (of streng) aanspreeklik gehou kan word, kan die eienaar ook in alle gevalle waar hy as eienaar nalatig of opsetlik opgetree het, aanspreeklik gehou word vir die skade wat deur sy hond veroorsaak is. Nalatigheid behels dat wanneer jy as redelike persoon moontlike skade of beserings kon voorsien het, maar niks gedoen het om dit te verhoed nie, is jy nalatig. Gevalle van nalatigheid sou byvoorbeeld wees om met jou hond te gaan stap sonder n leiband waar ander mense of diere teenwoordig is, of om te versuim om jou hond ingeperk te hou in jou erf. Opsetlike gedrag sou voorkom waar jy jou hond aanhits om iemand anders of n ander dier aan te val.
SKADEVERGOEDING
Beide spesiale skade (wat byvoorbeeld skade aan eiendom sowel as mediese uitgawes en toekomstige mediese uitgawes kan insluit), sowel as algemene skade (wat pyn en lyding insluit, verlies van lewengenieting, gestremdheid en ontsiering) kan geëis word. Hondbyte het menigmaal erge ontsiering, verminking en die dood meegebring en is die skade wat geeis kan word onbeperk en kan dit menige honde eienaar finansieel ruineer. Dit is uiters belangrik dat honde eienaars hul aanspreeklikheid beperk deur voldoende kontrole oor hulle honde uit te oefen ten einde tragedies te voorkom.
Dit kan ook voordelig wees vir honde-eienaars om te oorweeg om persoonlike aanspreeklikheidsversekering uit te neem om enige ongelukkige omstandighede soos hierdie te dek.
Vir slagoffers van hondebyte is dit essensieel om eienaarskap van die hond wat jou gebyt het vas te stel. Dit sou raadsaam wees om onmiddelik fotos van die hond te probeer neem, om later eienaarskap te bewys, en ook om so spoedig moontlik die voorval by die S.A.P. aan te meld.
“Die makste honde byt die seerste”