16 C
Mossel Bay
26th Sep 2023
BusinessCommunity & LivingGeneral knowledge

RAAK BETROKKE!

RAAK BETROKKE!

AfriForum is ’n burgerregte-organisasie met ’n selfdoen-mentaliteit wat hoop wil skep vir die gemeenskap. Ons poog om die agteruitgang van ons land in hierdie moeilike tye te help stop en doen dit op verskillende terreine waarvan veiligheid net een is, maar ’n bitter belangrike een.

Soos almal weet, word veiligheid nie in isolasie of in spreekwoordelike silo’s geskep nie, maar deur almal se betrokkenheid en deelname. Indien ons die begeerte het om misdadigers een voor te wees, is die tyd van op die draad sit en toekyk verby. Die Wes-Kaap se toekoms in terme van veiligheid hang af van wat nou gedoen word.

Ons het nog ’n vensterperiode om voor te berei om te verseker dat misdaad nie hier uit sy nate bars soos in ander dele van die land nie en as ons dit verbrou, gaan dit ’n geweldige stryd wees om weer beheer te verkry.

AfriForum stig landswyd veiligheidstrukture, rus hulle toe en lei hulle op om hul eie gebiede binne die riglyne van die land se konstitusie te beveilig. AfriForum bemagtig dus gemeenskappe om hul eie lot te bepaal. Dit word gedoen in wedersydse samewerking met ander buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, die SAPD en ander veiligheidsrolspelers.

Die rol van ’n buurtwag is om die oë en ore van die SAPD te wees en hulle op so ’n manier te ondersteun dat hulle hande sterk gemaak word. Ons SAPD beleef landwyd erge uitdagings wat tot ’n groot mate teweeggebring word deur begrotingsbesnoeings. Daar is verskeie maniere hoe ’n buurtwag, binne wetlike voorskrifte, die druk op die SAPD kan help verlig. Dit kan gedoen word deur bv. sigbaarheidspatrollies te loods wat baie daartoe bydra om misdadigers te ontneem van vryheid om hul aksies uit te voer, die aanbring van kameras en die gebruik van hommeltuie.

Om AfriForum-buurtwaglede te bemagtig, word opleiding gratis aangebied in relevante modules soos regsaspekte, noodhulp, selfverdediging, toneelhantering en vele meer. Meer gespesialiseerde opleiding word ook aangebied vir bv. bestuurslede en hommeltuigvlieëniers, asook in die opstel van gebeurlikheidsplanne. AfriForum-buurtwaglede geniet gratis regsadvies en die bystand van ’n kundige regspan. Toerusting word aan die buurtwag voorsien soos benodig mag word.

AfriForum-buurtwag in Groot-Brakrivier het noue skakeling met ons leiers in die Mosselbaai-tak en ons provinsiale koördineerder.

Enige persoon wat by hul plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke wil raak, is welkom om met die plaaslike tak in verbinding te tree. Skakel vandag u Mosselbaai-tak en raak deel van die oplossing.

AfriForum dien die gemeenskap en is nie betrokke by partypolitiek nie. Hul plaaslike buurtwag-noodnommer is 079 957 9046.

BYSKRIF: Van links na regs: Marius van den Berg (Operasioneel), Johan Scheepers (Leier) en Ronald Hacquebord (Inligting).

Related posts

Ontdekkingsreise

Lydie Terblanche

SPIRAL WALK IN GREAT BRAK RIVER

Annlerie van Rooyen

Waarom probeer ons so hard?

Laurinda Smit

NECTAR IN THE GARDEN

Christaan Viljoen

Winter time saviours

Heleen Coertze

GREAT BRAK RIVER YOUTH CAFÉ – BUSY ON ALL FRONTS!

Jannes Buys