Die Padongelukkefonds (POF) is ’n statutêre liggaam met die hoofdoel om dekking te bied aan alle persone vir enige skade wat gely is as gevolg van die dood of liggaamlike besering veroorsaak deur die nalatige bestuur van motorvoertuie binne die grense van Suid-Afrika. Die Wet op die Padongelukkefonds 56 van 1996 (Die Wet) bevat streng statutêre vereistes om ’n eis in te stel en kan baie intimiderend en ingewikkeld wees.
Wie kan eis teen die POF?
Volgens die Wet is die POF verplig om enige individu te vergoed vir enige verlies wat hy gely het as gevolg van enige liggaamlike besering aan homself of die dood van, of enige liggaamlike besering aan enige ander persoon, veroorsaak deur of voortspruitend uit die nalatige bestuur van ’n motorvoertuig deur ’n ander persoon.
Wat kan van die POF geëis word?
Daar is twee hoofsoorte skade wat in sekere omstandighede van die POF verhaal kan word: algemene skade en spesifieke skade.
Spesifieke skadevergoeding verteenwoordig werklike finansiële verlies en sluit medieses uitgawes, verlies aan inkomste en verlies aan ondersteuning in. Algemene skadevergoeding is egter nie maklik vasstelbaar nie en maak voorsiening vir ’n baie meer ingewikkelde prosedure. Sulke eise word slegs toegeken indien die individu “ernstige besering/s” opgedoen het. Om ’n “ernstige besering” te bewys, word daar in regulasie 3 voorgeskryf dat daar ’n “Whole Person Impairment (WPI)” van minstens 30% ingestel moet word.
Die werklikheid is dat die verteenwoordigers van die POF nie altyd op hoogte van mediese kwessies of van die reg is nie. Dit beteken dat baie individue vergoeding verloor weens verjaring, die onregverdige verwerping van ’n eis of ondervergoeding.
Hoe om ’n eis teen die POF in te stel
Die belangrikste stap om ’n eis teen die POF in te stel, is om alle nodige dokumentasie te versamel. Die Wet bevat streng vereistes vir presies watter dokumente by die POF ingedien moet word om ’n eis te verwerk. Na ontvangs van al die vereiste dokumentasie sal die POF die eis ondersoek en ’n skikking aanbied, alternatiewelik moet u ’n dagvaarding uitreik en hof toe gaan.
Dit is nie verpligtend dat individue ’n regsverteenwoordiger aanstel om te help met die instel van ’n eis teen die POF nie, maar dit is beslis raadsaam. Die meeste regsverteenwoordigers sal help met POF-aangeleenthede op ’n gebeurlikheidsfooi-basis. Dit beteken dat regskoste nie betaalbaar sal wees tensy die eis suksesvol is nie.