As alles volgens plan verloop, sal Langstraat en Stasieweg in Groot-Brakrivier binnekort opgegradeer en gerehabiliteer word. Die konstruksie sal ongeveer 11 maande duur wat in Februarie 2020 ‘n aanvang sal neem tot ongeveer middel Desember 2020. Die projek van sowat R40 miljoen sluit onder meer rehabilitasie van die padoppervlak, behoorlike sypaadjies en parkeerareas in.
Die konstruksie van die pad sal in half-wydtes gedoen word, en verkeer sal van tyd tot tyd deur middel van rystop beheer word.
Daar sal ten alle tye gepoog word om toegang tot alle persele te voorsien, en om te verseker dat die ontwrigting tot die minimum beperk word. ʼn Versoek word gerig aan die publiek, besighede en eienaars om geduldig te wees met die konstruksieprojek.
Mnr. Colin Puren sê dat sover moontlik bome en plantegroei behoue sal bly, hoewel daar gevalle is waar tuine, wat binne die padreserwe aangelê is, in die slag mag bly. “Die algemene voorkoms van die dorp en omgewing, maar ook die fokus op mobiliteit en progressie en veral veilige voetgangerverkeer sal deur die projek bevorder word.”
Vir verdere navrae kontak:
Graham Ievers van Entsha Henra (083 544 7745)
Martin Oosthuizen van Entsha Henra (064 655 5045)
Raadgewende Ingenieur Firma SMEC (044 873 5029)