Die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur, Wet 107 van 1998 (NWOB, 1998) stel die vereiste dat sekere aktiwiteite, bekend as gelyste aktiwiteite, slegs kan voortgaan indien dit ’n omgewingsgoedkeuring van die bevoegde owerheid ontvang het. Die konteks vir elke ontwikkelingsprojek is anders en beïnvloed verskillende mense en natuurlike stelsels op verskillende maniere. Die gelyste aktiwiteite, die vlak van die omgewingsimpakstudie (OIS) en die prosedures wat gevolg moet word, word bepaal deur die Nasionale Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake (NDBVO).
Die Omgewingsimpakpraktisyn (OIP) en die bevoegde owerheid (BO) het die finale sê oor of ’n aktiwiteit wel ’n omgewingsimpakstudie (OIS) vereis. Voorbeelde van aktiwiteite wat tipies omgewingsgoedkeuring benodig, is onder meer aktiwiteite wat ’n watergebruiks-, luguitlaatgas-, en/of afvallisensie benodig, mynbou, verwerkingsaanlegte en produksieaanlegte.
Die doel van die omgewingsimpakstudie is om inligting te gee oor die omgewingsgevolge van gegewe aktiwiteite om besluitneming in te lig en die OIS word deur ’n onafhanklike Omgewingsimpakpraktisyn gedoen. Die vlakke van die OIS verskil, naamlik ’n vol of ’n basiese OIS. Vir die doeleindes van die artikel word die basiese OIS-proses gebruik wat hieronder geïllustreer is.
Die inligting wat verskaf word, moet toeganklik wees vir die besluitnemers en belanghebbendes en moet korrek, omvattend en verstaanbaar wees.
Belanghebbendes sluit die volgende partye in: regeringsowerhede, die aansoeker en geïnteresseerde en geaffekteerde partye (G&GP’s). G&GP’s is ’n omvattende term vir onder andere gemeenskappe, omgewingspraktisyns, akademici, nie-regeringsorganisasies, gemeenskapsgebaseerde organisasies, bewaringsagentskappe, tradisionele owerhede, besighede, verenigings en belastingbetalers. Die verskeidenheid van belanghebbendes verskil na gelang van die projekkonteks.
Kennisgewing vir ’n OIS moet gegee word deur drie formele aktiwiteite, naamlik:
- ’n kennisgewingbord;
- ’n skriftelike kennisgewing aan ’n vasgestelde lys van G&GP’s; en
- ’n openbare kennisgewing wat geplaas word in plaaslike/streekskoerante, of regeringskoerante.
Deur hierdie meganismes word die projek geadverteer en kan die OIP hul G&GP-databasis opstel. Dit is egter belangrik om te registreer as G&GP omdat slegs geregistreerde G&GP’s in kennis gestel word van:
- Die beskikbaarheid van dokumentasie en verslae, waarop die G&GP’s geregtig is om kommentaar te lewer.
- Die uitslag van die aansoek, die redes vir die beslissing en hul kan appèl aanteken.
- Die aansoeker se voorneme om teen die beslissing te appelleer.
’n Geregistreerde G&GP kan kommentaar lewer op voorwaarde dat:
- Kommentaar gelewer word binne die bepaalde tydsraamwerke.
- ’n Afskrif van kommentaar wat direk by die BO ingedien word ook aan die OIP verskaf word.
- Die G&GP’s enige belang wat die G&GP’s mag hê in die goedkeuring of weiering van die aansoek moet verklaar.
Dit is belangrik om te registreer as G&GP en om insette, voorstelle en kommentare op projekte in te handig, ook om:
- Te help met die identifisering en prioritisering van kwessies wat ondersoek moet word;
- Voorstelle te maak oor alternatiewe en maniere om negatiewe impakte te voorkom, te minimaliseer en te bestuur en die voorgestelde projekvoordele te verbeter;
- Wedersyds aanvaarbare kriteria vir die evaluering van besluitnemingsopsies te ontwikkel;
- Bydraende inligting te verskaf oor behoeftes, waardes en verwagtinge;
- Plaaslike en tradisionele kennis toe te voeg; en
- Te verifieer dat kwessies oorweeg is.
Die inligting kan gevind word op die webblad van die NDBVO, o.a.:
https://www.environment.gov.za/legislation/actsregulations; https://www.environment.gov.za/sites/default/files/docs/chapter4_basicassessmentprocess.pdf; https://www.environment.gov.za/documents/strategies/integrated environmentalmanagement_eim