Vir agter-en ompaaie moet jy beslis ‘n nuuskierige geen en goeie skeut avontuurslus in jou karakter saamdra. Die kronkelende Sewe Passe Roete tussen George en Knysna is kort genoeg dat jy maklik ‘n uitgebreide dag uitstappie kan maak, maar tog opwindend genoeg om plek-plek te swem, dieper in die bos te stap om foto’s te neem én rustig piekniek te hou by een van die talle inhammetjies.
Die volledige roete van 75 km , met korter afdraaipaaie tussenin, is ‘n kombinasie van teer en goeie gruispad en is immer gewild vir voertuie en fietsers. Vanuit Nelson Mandelarylaan in George ry jy verby melodieuse name soos Riviera, la Perla en Whispering Pines wat ritmies klink na ‘n voorspel van wat die dag kan bied. Net ná die ingang van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit begin Groenkop inheemse woud en daarmee saam die geure en klanke wat jy net in ‘n inheemse bos kry.
Ons kom heelwat fietsers teё en met die spoednaald wat konstant tussen 60 en 80 km huiwer, sit ons behoorlik terug en geniet die bostonnels wat plek-plek om ons vou. Vir meer as 70 jaar was hierdie pad die hoofroete tussen George en Knysna totdat die N2 nasionale pad in 1952 geopen is. Die totale roete, wat oor 10 rivieroorgange en sewe klowe strek, is die nalatenskap van die bekende Thomas Charles John Bain, wat saam met sy vennoot en swaer Adam de Schmidt, verantwoordelik was vir die beplanning en konstruksie van dié historiese pad. Bain het vanaf Knysna begin terwyl die roete vanaf George se kant af Schmidt se verantwoordelikheid was.
Die projek, wat in 1867 begin is, het ‘n almintige 15 jaar geneem om te voltooi en word vandag nog gesien as een van die belangrikste mylpale in Bain se lang werksloopbaan van 40 jaar. Vir al die oorspronklike brûe is ingevoerde dennestompe gebruik. Aan die begin van 1900 is al die brûe egter met beton of staal vervang en in 1970 is die brûe én die Sewe Passe Roete as ‘n waardige nasionale monument verklaar.
By elke brug is daar ‘n smal strook stilhouplek, kompleet met ‘n beskrywende inligtingsbord met kleinskrifdetail. Hier en daar klim ons af, stap af tot by die koel water van die rivier en luister na Dalene Matthee se bosvoёls. Jong arende krys en kibbel dieper in die bos en bobbejaantoue wat plek-plek in die water hang laat die Tarzan in jou wakker word.
‘n Welkome stopplek is by The Tea Junction, waar elke dag se verleidelikhede met wit kryt op ‘n swartbord jou nooi om te kom aansit. Hiervandaan kan jy ook afdraai op die escape route om by Wildernis Hoogte se uitkykpunt na die Kaart van Afrika te gaan kyk.
Jy ry verby pastorale tonele van melkplase met vet Jerseys, kophoogte mielielande en skaam wit agapanthus stele wat ligwig heen en weer wieg. Plaasname soos Ouma’s Farmhouse , Kleinbegin en Avignon vertel iets van beginjare en swaarkry. Oral sien jy tekens van perde, Garden Route Horse Trails en Swartvlei Equestrian is hier jou bakens.
Homtini pas, ook die Goukammarivier pas genoem, wen loshande die prys van die dag. Totaal omring met inheemse bome soos Waterhout, Kaapse Swarthout en Rooi Els, stap ons vir oulaas met die smal voetpaadjie af na die rivier. Ek verstaan eensklaps hoekom Thomas Bulpin, befaamde Suid-Afrikaanse reisskrywer , spesifiek na die Homtini pas in sy reisbeskrywings verwys het.
Die Rondevlei afdraaiteken lei na Wildernis en Sedgefield se eie Mere Distrik. (Dié Ramsar Vleiland is van internasionale belang met fantastiese uitsigte en voёlkykgeleenthede – opsigself ‘n naweekbesoek werd.) In Rheenendal, met sy oulike Totties Country Store, speel die mense op die veld oorkant krieket. Net na die laaste pas, vernoem na die grys en wit Phantom mot, wat gedurende lente tyd in die area arriveer, word jy teruggelei na die besige N2 op die westelike buitewyke van Knysna.

previous post
next post