Sedert einde November, het die vrywilligers van S.M.A.R.T (Stranded Marine Animal Rescue Team) omtrent rondgehardloop om mariene diere en seevoëls in nood by te staan!
Een van die hartseer gebeurtenisse was sekerlik die stranding van ‘n dolfyn op Glentana se strand op 27 Desember. Die dolfyn is deur vissermanne probeer terugstuur see toe, maar die volwasse wyfie het bly strand toe kom. Sy is uiteindelik op die strand gerieflik gemaak totdat die nodige goedkeuring van die Departement Omgewingssake ontvang is om haar van die strand te verwyder. Sy is na Dr Frans De Graaff geneem waar hy genadedood moes toedien.
Daar was daaglikse oproepe na die noodnommer oor robbe wat “nie lekker lyk nie”! In die meeste gevalle was dit maar net robbe wat bietjie op die strand kom rus het. Op Hersham het ‘n volwasse mannetjie vir sowat vier dae lank mense die skrik op die lyf gejaag!
Die walvisstranding op Wildernis op 28 Desember was egter ‘n baie hartseer ervaring vir almal wat daarby betrokke was. Sosiale media het gegons maar die werklikheid is dat die jong manlike boggelrugwalvis nie gesond was nie.
Goeie gebeure was daar egter ook en die besoek van Leslie, ‘n sowat twee jaar oue olifantrob wat hier kom verhaar het, het tot gevolg gehad dat die vrywilligers van S.M.A.R.T haar vir 3 weke dag en nag opgepas het. Daar is verskeie dreigemente gewees dat sy ‘n gesogte kersmaal kon wees en so is 24/7 na haar welstand omgesien. Sy is aanvanklik by Reebok vir die eerste keer gesien waar sy vir twee dae almal aan die praat gehad het. Daarna het sy “verdwyn” en is ‘n paar dae later by Heroldsbaai vir ‘n kort rukkie opgemerk. ‘n Dag of wat later was sy op Glentana vir ‘n uur of 2 en toe het sy reg voor die De Bakke Chalets in Mosselbaai vir 4 dae gaan lê. Sy het weer geskuif en oor ‘n naweek die besige Santos strand uitgekies. Daarna het sy by die Mosselbaai seiljag en bootklub gaan bly waar sy haar totale verhaarproses voltooi het. Leslie het almal se harte gesteel met haar groot oë en unieke karaktereienskappe en sy is uiteindelik na ‘n stil strand verskuif toe die gedreun van waterponies haar erg begin irriteer het. Sy is na die verskuiwing weer vir ‘n kort rukkie by Boggomsbaai gesien. Dit was ‘n ongelooflike groot voorreg om die hele proses te kon ervaar en soveel tyd saam met die spesiale besoeker deur te bring.
Heelwat pikkewyne is ook van die strande verwyder en deur die vrywilligers na SAPREC geneem vir rehabilitasie.
Die inwoners en vakansiegangers word bedank vir elke oproep wat ontvang is om ‘n gestrande dier of seevoël aan te meld.