Die afgelope maand was weer eens ‘n bedrywige maand vir die vrywilligers van S.M.A.R.T (Stranded Marine Animal Rescue Team).
Hierdie tyd van die jaar is daar altyd baie jong Brilpikkewyne wat op ons strande beland. Die werklike rede daarvoor is nie bekend nie, maar dit wil voorkom of die jongelinge (“blues”) op ‘n reis tussen die broeikolonies (Algoa Baai en Kaapstad) is. As gevolg van uitputting om gewoonlik rowwe seetoestande te moet trotseer, wonde, siekte soos malaria of bloot honger beland hulle dan op ons strande. Daar is 15 pikkewyne in slegs ‘n paar dae op strande tussen Groot Brakrivier en Gouritsmond gevind. Met die volgehoue toewyding en liefdevolle sorg van die vrywilligers by SAPREC (Seabird and Penguin Rehab Centre) in Mossdustria, het al 15 oorleef! Die eerste groep sal binnekort vrygelaat word. Brilpikkewyne of African Penguins is ‘n bedreigde spesie. Indien pikkewyne op strande gevind word kan S.M.A.R.T of Carol Walton (082 364 3382) gekontak word.
Daar is ook ‘n uitsonderlike robspesie op Glentana gered. Die Antarktiese Pelsrob het net links van die Visgraat Restaurant op die strand gelê, maer en baie moeg. Hulle kom sowat 5000 kilometer vanaf Mosselbaai op veral die Suid-Georgië eilande voor en dit is slegs die tweede aangetekende stranding aan die Suid Afrikaanse kus van die spesie. Hulle pragtige liggrys pels, besondere kop en amandelvormige oë staan duidelik uit bo ander robbe. Sylvester, soos die jong mannetjie gedoop is, is na Dr Frans De Graaff se Diere Hospitaal geneem en daarna na Dr Greg Hofmeyer by Bayworld in Port Elizabeth gestuur. Ongelukkig het Sylvester na 5 dae afgesterf en die oorsaak van sy dood is heel moontlik een of ander siekte. Nogtans ‘n baie besondere stranding en ‘n wonderlike voorreg om die dier te kon sien.
Saterdag 4 Augustus het die noodfoon van S.M.A.R.T gegons nadat daar twee baie spesiale walvisse by Klein Brakrivier uitgespoel het. Die ma en kalf het sowat 900 meter van mekaar gestrand en was reeds dood. Die positiewe identifikasie van die walvisse is deur Dr Gwen Penry van die Plettenbergbaai Strandingsnetwerk gedoen as Trues Snoetneuswalvisse. Die seldsame soogdiere kom nie algemeen so naby aan die kus voor nie, omdat hulle baie diep duik en dus ‘n diepwaterspesie is. Trues Snoetneuse kan sowat 5 meter lank word. Die ma het 4.8 meter en die kalfie 2,5 meter gemeet. Belangrike wetenskaplike data is deur
Dr Gwen en haar span in samewerking met Oceans Research ingesamel, terwyl die vrywilligers van S.M.A.R.T die area afgesper het en die publiek se navrae beantwoord het. Al die data sal by die Port Elizabeth Museum geberg word, waar dit tot die beskikking van alle nagraadse studente is. Ook hierdie stranding was slegs die tweede aangetekende voorval waar ‘n ma en kalfie saam gestrand het. Die rede vir die strandings is onbekend.
Die publiek word gevra om asseblief alle moontlike strandings so gou as moontlik aan S.M.A.R.T te rapporteer by 072 227 4715. Met die walvisseisoen in volle swang, is die vrywilligersgroep 100% gereed om op moontlike strandings te reageer. Met soveel druk op die mariene ekologie, is ons oseane en al die lewe daarbinne, in ernstige moeilikheid.