So in die verbystap by die groen bank op my stoep gaan sit ek. Die son dans op my kaal voete terwyl my oë gly oor die doudruppels op die lang graspunte wat skitterwink in die sonstrale. Ek dink met verlange terug na my wyse vriendin uit die Kaap se kuier en haar vertellings, my ouers se glasie sjampanje met my Moeder se 80ste verjaarsdag, die kinders se laataandgeselsies en skelm rook – alles deel van die voue en kreukels op die groen bank. Ek wonder onwillekeurig hoekom ek nie meermale net stilsit, asemskep, my beker vul en weer boeklees terwyl die lewe sy gang gaan nie? Opnuut onderneem ek om meer koestergeleenthede te skep waar niks belangriker is dan die deel van vertellings, betekenisvolle gesprekke en die gevoel van welgeluksaligheid terwyl die tyd stilstaan nie. En om nie keer op keer besig te raak, besig te bly, verlore tyd te probeer opmaak en goed na te jaag net ingeval almal se lewens weer deur die onvoorsiene verander word nie.
Ek gaan vir oulaas swem om die see te groet, trek die winterlakens en donskombers nader, bestel kaggelhout, skaf port en sjerrie aan, slaan Ouma Oudtshoorn se boontjieresep na en koop bestanddele aan. Die herfs is hier – ’n duidelike tyd van natuurlike, maar hopelik sagte veranderings.