Selfverdediging is deel van die wyer konsep van private verdediging (die verdediging teen ’n aanval op jou persoon, jou belange en/of iemand anders se belange). Die algemene beginsel in Engelse reg is dat die handeling van selfverdediging enige handeling insluit, selfs al is dit onwettig, om besering aan jou eie liggaam of dié van ander te beskerm. Dit is ’n algemeen aanvaarde beginsel dat elke individu oor dieselfde reg beskik om ’n ander individu te beskerm, as wat hy/sy het om hom-/haarself te beskerm. Gemeenregtelik werk selfverdediging binne drie beginsels:
Dit laat individue toe:
- om redelike krag te gebruik om eerstens hom-/haarself te beskerm teen ’n aanval;
- om ’n aanval teen ’n ander persoon te verhoed;
- Om sy/haar eiendom te beskerm.
Dit is van kardinale belang om te verstaan dat die Suid-Afrikaanse regsisteem van ’n individu verwag om ander alternatiewe te gebruik, bv. om die polisie te kontak, alvorens hulle die besluit neem om reg in eie hande te neem. Waar hierdie alternatiewe nie redelikerwys beskikbaar is nie, laat die reg ’n individu toe om op sy/haar eie onthalwe aktief op te tree teen enige gevaar. Selfverdediging moet derhalwe as ’n laaste opsie uitgeoefen word.
Selfverdediging moet aan sekere vereistes voldoen om regverdigbaar te wees:
- ’n Verdediger moet krag gebruik om ’n onregmatige aanval af te weer;
- Die onregmatige aanval moet gerig wees op die verdediger se lewe, liggaamlike integriteit of ander se belange (wat die moeite werd is om te beskerm);
- Die onregmatige aanval moet reeds plaasvind of dreigend wees (dit kon nie alreeds verloop het nie);
- Die verdediger moet redelikerwys geglo het dat hy/sy daadwerklik in selfverdediging optree;
- Die daad van selfverdediging moet noodsaaklik wees in die beskerming teen die aanval;
- Die verdedigende aksie moet teenoor die aanvaller uitgevoer word;
- Die verdedigende aksie mag nie meer skade aanrig as dit wat redelikerwys nodig is nie (die aksie moet proporsioneel wees tot die aanval).
OORSKRYDING VAN DIE PERKE VAN SELFVERDEDIGING
Binne Suid-Afrikaanse konteks kan die oorskryding van die perke van selfverdediging die geregtelike gevolg hê dat selfverdediging nie effektief as verweer gebruik kan word nie. ’n Voorbeeld sal wees, indien A vir B aanval met ’n plat hand (B ’n “taai klap” gee) en dit was nooit A se bedoeling om B te vermoor nie en B, in sy geloof dat hy in selfverdediging opgetree het, skiet vir A wat lei tot A se dood, kan B maklik skuldig bevind word aan moord, in die geheel. Die balans tussen die oorspronklike aanval en die verdedigende reaksie is, in hierdie scenario, glad nie proporsioneel nie.
Alhoewel bogenoemde waar is, kan die howe van die standpunt uitgaan dat alhoewel B die perke van selfverdediging oorskry het, die beginsel van selfverdediging steeds as versagtende omstandighede kan dien, wanneer vonnis opgelê word.
Met die bogenoemde in gedagte, is dit die skrywer se aanbeveling om liefs selfverdedigende aksies te vermy. Selfverdedigende aksies in algemene situasies wat lei tot hofsake, onder andere bakleiery in kroeë, inbrake en padwoede-insidente word sterk getoets deur die vervolgingsgesag en kan maklik platval onder kruisondervraging. Dit lei tot individue wat skuldig bevind word aan misdade soos aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer, poging tot moord en in sommige gevalle selfs moord, dit alles terwyl hulle geglo het en steeds glo dat hulle in selfverdediging opgetree het.