15 C
Mossel Bay
12th Aug 2022
Community & LivingFinancesGeneral knowledgeNewsRelationships

SKAAL SÓ AF NA AFSTERWE VAN MAAT

Wanneer jou huweliksmaat sterf, bly jy agter met wisselende emosies, herinneringe, hartseer en verlange. Boonop is daar baie dinge waaroor jy alleen moet besluit. Jou geliefde se persoonlike besittings moet uitgesorteer word en jy moet besluit wat weggegee, verkoop of bewaar moet word. Die afskaalproses is nie maklik nie en is nie iets wat binne ʼn paar dae of selfs ʼn paar weke afgehandel word nie.

Kundiges deel ʼn paar wenke

  • Begin om jouself geestelik en emosioneel voor te berei deur kartondose, etikette en merkpenne aan te skaf.
  • Skep kategorieë soos weggooi, verkoop, skenk en behou. Plaas elke item in die toepaslike houer. Waak teen besluitloosheid – deur goed te hou om later daaroor te besluit, stel jy net die proses uit.
  • Hanteer die projek in fases. Doen byvoorbeeld vertrek vir vertrek en een kas, rak of tipe item op ’n keer. Begin by ʼn vertrek wat die minste emosionele impak sal hê en met items waarvan jy maklik ontslae kan raak. Deur van basiese items ontslae te raak, berei jy jouself voor vir dit wat jou emosioneel gaan maak.
  • Doen soveel as waarvoor jy op ʼn dag kans sien.
  • Indien jy na ʼn kleiner plek verhuis, hou die beskikbare ruimte in gedagte. Beperk kategorieë soos om net die CD’s te hou waarna jy gereeld luister en boeke wat jy weer sal lees of nog nie gelees het nie. Hou slegs een stel eetservies en eetgerei, en raak ontslae van duplikate.
  • Papierwerk is meestal tydrowend, omdat jy dalk elke briefie of kaartjie sal wil lees en elke foto sal wil bestudeer. Plaas alle papiere (dokumente, kwitansies, groetekaartjies) in ʼn houer om later te sorteer. Maak elektroniese kopieë van dié wat belangrike inligting bevat en waarvan jy nie die oorspronklikes nodig het nie. Maak ʼn album van los foto’s, of skandeer dit ook en bêre dit elektronies. Liasseer papierkopieë van belangrike dokumente.
  • Weggooi-items is die maklikste om te hanteer. Dis gewoonlik goed wat vir niemand anders meer van waarde kan wees nie.
  • Verkoop. Daar sal waarskynlik items wees wat jy wil verkoop eerder as om te skenk en dis ʼn ideale manier om ʼn paar rand te verdien. Hou ʼn motorhuisverkoping, of adverteer dit op plaaslike koop- en verkoop-groepe.
  • Skenk. Jy voel dalk skuldig deur sy/haar goed weg te gee, maar deur dit aan iemand te skenk aan wie dit vreugde gaan verskaf en wat dit gaan waardeer, gaan jou ook gelukkig maak. Indien ʼn familielid of vriend vir iets spesifieks vra, merk dit met die persoon se naam en lewer dit so gou moontlik af. Luister na jou hart. Soms wéét ʼn mens instinktief wie van iets spesifieks gaan hou, of dit kan benut, selfs al vra die persoon nie daarvoor nie.
  • Oorweeg dit om erfstukke of items met sentimentele waarde wat ʼn kind of kleinkind eendag sal erf, nou reeds aan hulle te gee. Dan hoef jy nie bergplek daarvoor in jou kleiner tuiste te soek nie en jy geniet nou die vreugde van gee en die ontvanger se vreugde oor hierdie vroeë erflating. Skenk die res aan liefdadigheidsorganisasies. Neem foto’s van dit wat jy nog wil onthou, maar wat jy nie noodwendig wil behou nie.
  • Dit wat jy wil behou. Dinge wat vir jou geliefde belangrik was en plesier verskaf het, of wat julle saam aangeskaf het, mag moontlik die moeilikste items wees om van ontslae te raak. Indien hy/sy ʼn volledige versameling van iets gehad het, besluit of jy dit self wil behou en spasie daarvoor het. Andersins, skenk of verkoop dit aan ʼn versamelaar.
  • Moet ʼn mens die taak alleen aanpak of hulp aanvaar? Daar gaan tye wees wat jy gaan verkies om alleen te wees, maar soms sal die bystand of net teenwoordigheid van vriende en familie welkom wees. Neem die vrymoedigheid om te vra en wees spesifiek oor die aard van die hulp wat jy verlang. Benut hierdie geleentheid om bande met jou kinders en kleinkinders te smee. Nooi hulle om te kom kuier en gaan saam met hulle deur die sentimentele items en erfstukke.

Die afskaalproses beteken nie dat jy jou geliefde verloën of vergeet het nie. Die feit dat jy na ʼn ander tuiste verhuis, beteken ook nie dat jy die herinneringe aan dit wat jul saam beleef het, agterlaat nie. Herinneringe is dikwels kosbaarder as die fisieke items of fisieke leefruimte waarvan jy moet afskeid neem.

Related posts

GREAT BRAK RIVER RATEPAYERS SERVING OUR COMMUNITY

Anna Haquebord

SCOTLAND – HASTE YE BACK!

Paul de Wet

CAN I INSTALL A GENERATOR AT MY SECTIONAL UNIT?

Herman Swanepoel

Ageless Grace

Annlerie van Rooyen

WHATSAPP – GEVOLGE

Wilhelm de Wet

DIE GEHEIMENIS VAN TSITSIKAMMA-BOME

Annlerie van Rooyen