21 C
Mossel Bay
29th Jan 2023
Community & LivingNature & Nurture

SLANGE: WEES VERSIGTIG, MAAR NIE VERSKRIK NIE

Noem net die woord “slang” en mense spaander, maar dalk kan die ingeligte persoon tog meer diskresie gebruik, in plaas daarvan om die slang se kop te “vermorsel”?

Jy kan sê slange hoort in die natuur en nie in jou tuin nie. Hou in gedagte dat slange se natuurlike prooi knaagdiere, akkedisse, paddas, voëltjies en ander slange is. Dit behoort dus te verstane te wees dat indien hierdie “prooi” in jou tuin bly, dit slange sal lok. Dink byvoorbeeld aan visdamme – dit lok paddas, paddas lok slange en as die visdam, omring met jou gunstelingstruike, boonop onder jou venster is, kan die slange in jou huis beland. Dieselfde geld vir voël-, hoender- of haashokke – dit kan slange lok. Voeg hierby donker en verwaarloosde plekke soos jou deurmekaar garage of -tuinhuis, houtbalke met grasdakke, stapels sink- of asbesplate, bourommel, vuurmaakhout, gras-, kompos- en rommelhope, struike en rotstuine – alles plekke wat die slang as ’n veilige skuiling sal beskou. Daar bestaan nie hulpmiddels om slange af te skrik nie; die beste is om jou omgewing netjies te hou. Onthou ook dat die enigste slang wat jou moontlik as ’n prooi sal sien, ’n volwasse luislang is. Ander slange sal jou net aanval wanneer hulle bedreig voel. Indien jy nie ’n slangkenner is nie, moet nooit met jou kaal hande aan ’n slang vat nie, party maak net asof hulle dood is.

Wanneer jy ’n slang gewaar, staan eers doodstil, moet geen skielike bewegings maak nie en beweeg dan stadig weg van die slang af (4 m is ’n veilige afstand). Indien die slang in jou huis is, maak die vertrek se deur toe en druk ’n handdoek of koerantpapier onder die deuropening in sodat dit nie onderdeur kan seil nie. Bel die plaaslike slangvanger en hou jou diere en kinders buite die huis. Indien moontlik moet die slang se bewegings deur die kamer se venster dopgehou word. As jy braaf genoeg is, sal ’n handdoek of kombers oor die slang help om hom stil te hou tot die slangvanger opdaag.

Nie-gevaarlike slange wat in die Suid-Kaap voorkom, sluit in: bruin huisslang, olyf huisslang, spikkel- (“spotted”) huisslang, rooilipslang (“herald snake”), gevlekte skaapsteker, molslang, bergadder, slakvreter, bruin waterslang, Wes-Natalse groen slang, eiervreter, Karoo-sandslang, gevlekte kousbandjie (“Harlequin”), blindeslang en die Kaapse erdslang. Daar is egter net ses slange wat as gevaarlik of uiters gevaarlik kwalifiseer:

  1. Pofadder: Kort gesette slang, driehoekige kop, duidelike chevrons op rug wat agtertoe wys. Sis en blaas, kom op grond voor, snags aktief. Mannetjie se stertgedeelte is langer as die wyfie s’n en kleur wissel.
  2. Kobra: Oog het ronde pupil, breë kop. Wanneer dit gekonfronteer word, lig dit die bolyf en maak ’n breë bak nek. Bedags en vroegaand aktief. Kleur wissel.
  3. Boomslang: Kort gesette kop, groot oë met ronde pupil. Wanneer dit gesteur word, blaas dit die nek en bolyf op. Meestal in bome, bedags aktief. Kleur wissel – in die Suid-Kaap is die mannetjies gewoonlik groen bo en gelerig onder, wyfies is lig tot olyfbruin.
  4. Rinkhals: Het dikwels ’n swart pens met wit bande oor die keel. Kan helfte van liggaam van die grond lig, maak bakkop soos kobra. Verdediging: spoeg, maak of dit dood is, pik. Lê graag in son en bak.
  5. Nagadder: Kop het ’n duidelike chevron op wat na voor wys, kort kop met geronde snoet, middelgrootte oë met ronde pupille. Krul op en sis wanneer dit gesteur word. Verkies klam plekke naby standhoudende water.
  6. Koraalslang: Swart ringe om lyf met geel tot koraalrooi bande tussenin, duidelike swart omraamde band oor elke oog tot by bek. Gewoonlik snags aktief, lig bolyf en maak bakkop.

WAT MOET JY DOEN:

  • Indien ’n mens of ’n dier in die oë gespoeg word deur ’n rinkhals, spoel die oë onmiddellik deeglik met enige vloeistof uit
  • Identifiseer die slang wat gepik het
  • Ontbloot die bytplek
  • Verwyder ringe, horlosies of enige ander materiaal wat normale swelling kan verhoed
  • Moenie sny of druk nie
  • Moenie aan die wond suig nie
  • Hou die lugweg oop
  • Moenie elektriese skokbehandeling toepas nie
  • Hou die slagoffer stil en kalm
  • Moenie alkohol ingee nie
  • Mobiliseer die ledemaat
  • Wend ’n drukverband aan (slegs vir nie-spoegende kobras en mambas)
  • Toerniket (slegs vir nie-spoegende kobras en mambas)
  • Neem die slagoffer na die naaste hospitaal

Belangrike nommers vir slangrelokasies:

Hartenbos/Kleinbrak: Johan Barnard 071 178 6746

Heiderand/Danabaai: Stoney Steenbergen 083 609 9683

Grootbrak: Justin Godwin 076 974 4415

Glentana: Dirk Barnard 071 309 1665

Slangbyte: Arno Naude 083 739 9303 of Johan Marais 082 494 2039

Inligting verskaf deur Barrie Barnard met besoek aan Midbrak-Tuinbouklub

Related posts

CANCER BUSH

Janine Pereira

Kuns maak ‘n verskil

Lydie Terblanche

GO NATIVE!

Sally Adam

THE HISTORY OF MOSAICS

Lydie Terblanche

SUNBIRDS ON THE MOVE

Christaan Viljoen

Lights & Lanterns 2018

Laurinda Smit