16 C
Mossel Bay
25th Feb 2021
Community & Living News Tourism & Travel

SOMER, SON, SAFFIER … EN ROOMYS!

Jy kan nie geluk koop nie, maar jy kan ’n roomys koop – en dit is een en dieselfde ding. Onbekend.

Swem, somer en roomys gaan hand aan hand. Ons mag dalk nie swem nie, maar genadiglik het niemand gesê ons moet ophou roomys eet nie! Waar kom roomys vandaan?

Alexander die Grote en die Romeinse keiser Nero het gegeurde sneeu of ys geëet, maar dit was die voorlopers van sorbet, eerder as roomys. Die eerste mense wat suiwelroomys geniet het, was waarskynlik die Engelse koning Karel 1 en sy howelinge in die 17de eeu. Die lekkerny is voorberei deur Karel se Franse sjef, Gerald Tissain, die eerste persoon sover bekend wat bevrore nagereg met melk of room gemaak het.

Oor die volgende 200 jaar het net die rykes roomys geëet, tot in 1851, toe suilwelboer Jacob Fussell van Baltimore in die VSA besef het dat die beste manier om te keer dat room vermors word, was om die oormaat te vries. Sy bevrore room was so gewild dat hy ’n fabriek begin het. Op 15 Junie 1851 het hy met die wêreld se eerste massaproduksie van roomys begin, teen minder as ’n derde van die prys van sy mededingers se handgemaakte roomys. Binne ’n jaar het Fussell fabrieke in New York en Washington begin en roomys het gou regooor Noord-Amerika gewild geword.

Die eerste roomyshorinkie is in 1896 deur Italo Marcioni (Italië-Amerika) gemaak, maar die idee het eers tydens die Wêreldskou in St. Louis behoorlik posgevat toe E.A. Hamwi, ’n Siriese wafelmaker, sy wafels in horinkies gerol het sodat die verkoper by die stalletjie langsaan hulle met roomys kon vul.

Die sjok-roomys het ontstaan toe die Amerikaanse handelaar Christian K. Nelson gesien het hoe ’n seun in sy winkel wik en weeg tussen roomys en sjokolade. Nelson het met maniere geëksperimenteer om die twee te kombineer en het in 1921 die eerste sjok-roomys begin verkoop, wat hy die “Eskimo pie” genoem het.

Vandag is daar soveel geure en kleure, met of sonder souse, sprinkels en lekkers oor as wat enigeen se hart kan begeer, maar’n eenvoudige vanielje-draairoomys in die somerhitte bly ’n immergewilde keuse!

HET JY GEWEET?

  • Die yslollie was ’n toevallige uitvinding. Die Amerikaanse lemonadeverkoopman Frank Epperson het ’n glas lemonade met ’n lepel daarin oornag op ’n vensterbank laat staan. Die volgende oggend was dit kliphard gevries en toe hy die lepel probeer verwyder, het hy die wêreld se eerste yslollie in sy hand gehou. In 1923 patenteer hy dit. Hy noem dit Epsicle, maar die naam verander later na Popsicle.
  • Volgens oorlewering word die roomyssundae so genoem omdat ’n roomysverkoper in Wisconsin, VSA, se voorraad Sondae min geraak het. Om te vergoed vir die kleiner porsies, het hy sjokolade- of vrugtesous bygevoeg, wat so gewild geraak het dat klante in die week vir “Sondagroomys” begin vra het. Die spelling van “Sunday” is later verander weens puriteinse besware oor die profane gebruik van die naam van die Here se dag!
  • In Londen, in die laat 19de eeu, het Italiaanse immigrante bekend as “hokey-pokey”-mans roomys uit straatkarretjies verkoop. Hulle is so genoem as gevolg van hulle bekende roep, “Ecco un poco” wat “proe net” beteken. In 1922 het Wall (’n wors-en-pasteimaker in Engeland) se roomysverkopers driewiele begin gebruik om roomys te verkoop. Hy was ook die eerste

Die Boek van Eerstes, saamgestel deur Ian Harrison & Peter Joyce, Jonathan Ball Uitgewers, 2005.

Related posts

Om verantwoordelikheid vir jou aftrede te neem

Des Sinclair

GROOTBROER LOER!

Wilhelm de Wet

‘n Wit Olifant

Laurinda Smit

HOW TO BOOST YOUR ENERGY WHEN THE SLUMP HITS

Ishani Chetty

INTESTATE SUCCESSION ACT DECLARED UNCONSTITUTIONAL

Erika Oosthuizen

Winter time saviours

Heleen Coertze

Leave a Comment