Om ‘n sirkelroete van 103 kilometer binne vier dae in die Groot Karoo te stap, beteken jou voete moet hou, jou kop moet reg ingestel wees, maar bo alles moet jy stiltes kan waardeer. Hier dwing die stilte van die diepnag en die karige na-lente veld bedags, elke stapper om hul eie binne-stiltes telkens weer te besoek.
Dis middel September en die Swartberge lê spierwit agter ons. Ons voel opgewonde en effens senuweeagtig toe ons net buite Beaufort-Wes wegdraai op die Fraserburg grondpad. Plaasname soos Boesmanskop, Losberg, Blaauwkrans en Heuningland flits verby. Die ander 18 stappers is reeds by die kampterrein op die plaas Rietfontein, 65 km wes van Beaufort-Wes, waar Douwe en Liezl Vlok ons behoorlik met Karoo gasvrye-arms laat Woensdagmiddag inwag. Heuningland, die Vloks se eie stukkie hemel op aarde, lê ‘n entjie terug en grens aan die Suid-Westelike kant van die Karoo Nasionale Park.
Liezl verduidelik die reёls van diѐ Karoo staptog die eerste aand by die kampvuur. Douw , soos in die opeenvolgende aande, gee noodsaaklike inligting oor die fyner detail van die staproete en beantwoord die vrae Vroegoggend, elke oggend, om 6:15 – 6:45 vm is daar ontbyt van yogurt, graankosse, vrugte, en sap. Dan bou en pak elke stapper ook verwoed sy kospakkie vir die dag. Meestal is daar brood, koue vleis van die vorige aand se braai, sap en die allerheerlikste energie dadelbommetjies.
Ons groep is heerlik divers, kom van noord en suid en verteenwoordig ván die polisiediens tot medici. Die Vloks deel hulle kennis en liefde vir hierdie stukkie oer-aarde onbevange en mildadig. Dis die sewende keer dat hulle diѐ Heuningland Karoo staptog aanbied en hulle weet duidelik watter prioriteite vir ‘n stapper belangrik is – ‘n Pietfluit -ketel vir warm water en heerlike kos met varsgebakte brood wag saans by die kampvuur op jou. Daar is selfs spesiale toilet-en- stort tente met die allermooiste uitsigte by die kampplekke opgeslaan wanneer jy na ‘n lang stapdag arriveer. Voorts word jou slaapgoed en klere elke dag na die volgende kampplek vervoer, maar die toets is steeds of jou voete die lang stap afstand sal kan uit-en volhou…
Ons pak die eerste dag, ‘n almintige 27,5 km vanaf Welgemoed Kamp tot in die mooie Oukloof oornag kampplek, met ywer aan. Na 5 km sien ons Welgemoed skooltjie, tap vars water en waai vir die kleuters. Hulle begroet ons met ‘n gepaste “Hou bene hou” kreet. Ons stap deur ‘n amperse surrealistiese soetdoring woud, kaalgestroopte takke met lang steekdorings met net hier en daar ‘n terloopse groenigheid wat deurbreek. Jy stap heeltyd langs en oor die bolope van die Koekemoersrivier en kom na 18,5 by ‘n T- aansluiting, windpomp en sementdam aan. Hier, dig teenaan die Oukloofpaspad, tussen Beauford-wes en Fraserburg , lawe ons dapper stappers op ‘n Donderdagoggend ons voete in die yskoue water van ‘n sementplaasdam. Teen die tyd het die sagtheid van die Karoo in ons begin nesmaak.
Die Oukloofpas kronkel vir 9 km deur, langs en saam met die Koekemoersrivier se breё rivierlope tot in die Nuweveld . Die pas , 1536 m bo seespiёel, is uitdagend, maar sorg vir lieflike visuele verrassings. Groot, blink-gladde toffie kleurige rotsformasies fluister saggies iets van die oergebeure toe massas water miljoene jare gelede deur die einste pas gedolwe het. Die antieke landskap dwing jou subtiel om soms te stop, om-en op te kyk en die stille grootsheid van die antieke landskap rondom jou te waardeer. Wit dassie blertse teen die donker rotse, diep erdvarkgate en diep-geel bitou blommetjies sorg vir variteit op die gruispad pallet. Skielik, na 27,5 km en nog ‘n draai, sien jy ‘n tent en die res van die stappers. Met ‘n yskoue verrassing uit haar coolbox wag Liezl ons in en hiermee is die langpad en seer voete klaar vergete.
Ons wikkel vroegoggend vir dag 2 se 26 kilometer, van Oukloof tot Tweefontein. Ons beur die orige 5 km van Oukloofpas uit en begryp wat Douwe die vorige aand van die veranderende landskap van die Nuveld gesê het.” Jy kyk ver en diep na die oop vlaktes van die Groot Karoo en sien oёnskynlik nie veel nie, maar gaan sit op ‘n klip en voel hoe die aarde kliphard met jou praat.” Die Nuweveldberge is geologies deel van die Karoo-Supergroep en die vistas lê eindeloos voor ons. Ons sien Merino skape wat in die goue oggendlig wei, wit kaal populiere met uitgestrekte stamme asof in gebed, kapokbos, donsig oorgetrek vir matrasgoed en helder geel en pers vygies wat moedig standpunt inneem teen die elemente.
“Stap,” merk een van die stappers tydens een van die lang,reguit sessies op,” is ‘n gelykmaker soos min. Dan stel niemand belang in wat jy ry, wat jy kry en waar jy bly nie” Na diѐ diep filosofiese opmerking gesels almal goedig saam oor Sylvester, die ikoniese leeumannetjie. Ons neem fotos op die sementbruggie waaroor die ou grote geloop het tydens sy tweede ontsnappings poging in Maart 2016. Langs ons sweef twee Rooiborsjakkalsvoёls, wat genadiglik nie slagoffers van vergiftiging was nie.
Ons kom veels te gou by die Tweeweefontein/Koppieskraal afdraai. Op Koppieskraal aangekom nooi die wilgerbome met hul varsgroen blare jou om nѐt daar tent op slaan. Later, teen skemertyd, luister jy na die lammertjies wat roep en die veld verander mettertyd in ‘n sagte pastel Pierneef – waterverf. Die kampvuur brand reeds hoog, en vanaand lok gebraaide skaaptjoppies, varsgebakte vetkoek en ingemaakte druiwe konfyt jou nader. Later, rondom midernag luister ek na die naggeluide. ‘n Eensame jakkals tjank teen die maan in en ek beur buitentoe, waar Venus, Jupiter, Mars en Saturnus steeds op ‘n streep vir my knipoog.
Dag 3, van Tweefontein tot Kareebos, is slegs 22,5km en ons besluit vroegdag om nie te jaag nie. Ons stap verby lieflike populierbome en in ‘n onverwagse spieёlgladde plaasdam weerkaats die omliggende koppies.Ons verkyk ons by die familiebegraafplaas aan die opgeboude grafte met die hooghollandse kopskrifte. Na 7,5 km sien jy die soutbos heinings van Nigel en Mary Peddie se huis uit die 1840-tigs.Oor koffie , beskuit en Engelse tee vertel hy iets van hulle vorige lewens, hoe vlak die boorgatwater op sy plaas Koppieskraal is en vertel trots van sy Meatmaster skape en Nguni beeste. Na Koppieskraal se gasvryheid, daal ons af in die bolope van die Leeurivier waar die terrein meer bergagtig is.’n Witkruisarend, boodskappers van die voorvaders, swiep sierlik doer bo ons koppe. By die Kareebos opstal soek almal kampplek in die rivierbedding. Douw wink ons laatkommers met ‘n koppie koffie nader.
Dag 4, van Kareebos tot Welgemoed kamp is ‘n stywe 28,2 km ver. Ons besluit reeds die vorige aand om die spreekwoordelike ekstra myl te stap om na ‘n outentieke Karoo korbeelhuisie te gaan kyk. Oorblysels van hierdie puntagtige klip huisies van die trekboere uit die vorige eeu is skaars en kom slegs hier en daar in die Karoo voor. Ons stap ook vir lang ente langs die hoё wildsheining van die Karoo Nasionale Park. Die dapperes stap die ekstra 1,3 km en terug om te kyk waar Sylvester 2 keer ontsnap het Vandag se pad is uitdagend , maar met verreweg die mooiste vergesigte. Na 17 km kom jy oor ‘n stuitige bultjie en kan jy sover as tot by die Swartberge sien. Die laaste 10 km terug na Welgemoed kamp, beskawing toe, drink jy die laaste bietjie van die wye stilte suinig- gulsig in. Met die terugrit laatmiddag, terug N1 se kant toe, neurie ons saggies saam met die Radio Kalahari Orkes se manne waar hulle sing van die lekker, lekker lewe in Melk en Heuningland, ” waar my sondes nou vergewe en my veglus uitgebrand is, oe… Heuningland.”
Nuttig om te weet:
* Jy moet beslis stapfiks wees om die roete te doen
* Hoewel jou klere en tent na die verskillende kampplekke vervoer word en jy net ‘n klein rugsakkie vir drinkgoed saamdra, is dit alles behalwe ‘n slenterstap.
* Kontak Liezl Vlok by 0722435251 / info @heuningland.com vir ‘n Karoo stapervaring soos min