Die behoefte om ‘n mariene stranding seminar vir die streek aan te bied is al vir ‘n geruime tyd ‘n behoefte onder mariene rolspelers. S.M.A.R.T (Stranded Marine Animla Rescue Team) het die leiding geneem en 64 verteenwoordigers van 23 organisasies in die Suid Kaap het op Dinsdag 28 Mei, in die Graanskuur van die Dias Museum vergader om meer te hoor hoe strandingsnetwerke, soos S.M.A.R.T, die toenemende aantal strandings hanteer. Verteenwoordigers vanaf Plettenbergbaai, Knysna, George en Kaapstad het onder andere organisasies soos Sanparke, plaaslike NSRI stasis, Kaapse Natuurbewaring en plaaslike Bewareas verteenwoordig.
Die fasiliteerder was Meredith Thornton met gassprekers Dr Greg Hofmeyr van Bayworld in Port Elizabeth, en Kaptein Johan Ehlers van die SAPD plofstofeenheid. ‘n Geweldige hoeveelheid inligting is deurgegee en almal wat teenwoordig was, het die seminar as opbouend en noodsaaklik beskou. ‘n Opvolgbyeenkoms word reeds beplan waar daar meer praktiese inligting gebied sal word, soos byvoorbeeld, wie is verantwoordelik om wat te doen wanneer ‘n mariene dier soos ‘n walvis op ‘n strand lê. Dit is uiters belangrik dat alle rolspelers verstaan dat daar ‘n protokol in plek is waarvolgens opgetree moet word. Elke organisasie moet volgens sy mandaat en ervaring sy taak uitvoer. Kommunikasie en opleiding is van kardinale belang en laasgenoemde sal ook binnekort gereël word.
Die publiek speel netso ‘n belangrike rol deur letterlik die oë van die netwerke te wees. Dis die publiek wat op strande stap, of in huise met ‘n pragtige see/stranduitsig woon wat 99% van die tyd laat weet dat daar ‘n dier op ‘n strand is. Indien niemand dit rapporteer nie, sal organisasies soos S.M.A.R.T nie betyds kan reageer nie. Tyd is uiters belangrik en hoe gouer gerapporteer word, hoe vinnigers kan die dier gehelp word.
‘n Vals alarm is beter as ‘n dooie dier op die strand! Indien enige mariene diere – robbe, walvisse, dolfyne of seeskilpaaie op strande gevind word – kontak dadelik vir S.M.A.R.T by 072 227 4715.