Al ooit gewonder hoekom daar van ’n “sweet” 16-jarige gepraat word? Die rede hiervoor is dat die 15de jaar een van die moeilikste jare saam met jou kind is.
Kenmerke van 15-jariges:
* kwaai, ongeskik, hoogs geïrriteerd, knorrig en selfsugtig.
* wil heeltyd slaap en gaan oral in die moelikheid kom, veral by die skool
* gaan heeltyd grense toets, gaan jou uitdaag op maniere wat jy nie weet bestaan nie
* gaan vere voel vir jou gevoelens
* gaan jou dinge laat doen soos ’n selfoon teen ’n muur stukkend gooi
* gaan jou dit laat verloor (vergewe jouself)
* gaan jou laat wonder of daar vir jou kind ’n toekoms is
* gaan jou soos ’n mislukking as ouer laat voel (ignoreer die stem)
* is “ life-sucking” vir jou EN vir die 15 jarige
* het spasie nodig (maar ook jou onvoorwaardelike liefde)
Dan genadiglik raak hul 16 … “sweet” 16. Meestal ’n “happy chappy” wat met jou wil gesels oor hul lewe en jou (meestal) waardeer vir wat jy doen. Ek het dalk een keer te veel vir my “sweet” 16-jarige gesê hoe oulik hy nou vir my is toe hy my eendag vra: “Maar Mamma, hoe erg was ek dan?”
Die 16-jarige sit links voor op pad na George se lughawe toe. Ons luister na sy musiek. Ek praat met hom en die mannetjie ignoreer my blatant. Ek gee hom ’n stamp op die skouer.
“Hoor jy ek praat met jou?”
“Nee, Mamma, ek doen klaar twee goed.” En dit is?
Hy antwoord: “My brein kan net twee dinge op ’n slag doen. Ek luister musiek en ek kyk vir die natuur.”
En net daar besef ek dit is waar! Tieners verloor die helfte van hul brein rondom 15/16. Letterlik. Dit word “synaptic pruning” genoem. Met geboorte is daar min konneksies in die brein. Dan word die kind soos ’n spons wat inligting absorbeer deur goed te doen en vrae te vra soos hoekom, hoe, wat en nou? Teen sewe jaar is daar reeds duisende konneksies gevorm. Op 15/16 verloor die kind dan die helfte van hierdie konneksies wat hy nie meer gebruik nie.
Wat positief is, is die ontwikkeling van die frontale korteks, ook die “CEO” van die brein genoem. Dit beheer emosies en impulsiwiteit en help die tiener om soos ’n volwassene te begin optree. Dit is egter eers rondom 25-30 jaar klaar ontwikkel. Jy kan nie van jou tiener verwag om soos ’n volwassene op te tree nie! Sy brein is nog onder konstruksie! Met al die verandering in die brein is dit geen wonder die amagdala van die tiener is op “high alert” nie. Onthou die amagdala moet die tiener veilig hou tot die frontale korteks klaar ontwikkel is. Die belangrikste ding vir ’n ouer van ’n tiener is om te onthou: “This is not about me, but about my teen.”