HET JY GEWEET…..
Theuns Jordaan is op 10 Januarie 1971 gebore en het op ‘n plaas naby Venterstad, 30km van Bethulie, grootgeword. In sy matriekjaar aan die Hoër Volkskool Graaff-Reinet het hy sy liefde vir rugby met ‘n kitaar begin deel. Ná skool is hy weermag toe, daarna na die Universiteit van Stellenbosch waar hy ‘n B.Ekon.-graad verwerf het.
Met sy graad in die hand verruil Theuns in 1998 Stellenbosch vir Pretoria en by die KKNK van 2000 word sy debuutalbum, Vreemde Stad, vrygestel. Vreemde Stad word een van die suksesvolste debuut-albums nog ooit in Afrikaans met verkope wat reeds verby die 210 000-merk is.
Theuns is met sy diep rasperstem nie net ‘n uitstekende sanger nie, hy het ook deur die jare sy staal as liedjieskrywer gewys. Verskeie groot treffers – Soos Bloed, Jou Asem, Roeper van My Hart en Net Voor die Storm Kom om net ‘n paar te noem – is uit sy pen en daar is beslis nog ‘n paar wat wag om geskryf te word.
Kom luister na hom op 10 November. Vir meer besonderhede kontak 044 851 0113.