Die hedendaagse lewe verwag meer van ‘n pa, ‘n ma of selfs ‘n kind as in die verlede. Ons is besiger met vol kalenders, die druk is definitief hoër en tesame met dit die behoefte aan wegbreek. Tipies Suid-Afrikaners, wil ons wegbreek na die see, die bos, die berge, ag enige plek eintlik waar jy ‘n vuurtjie kan aansteek en net ‘n bietjie rustig verkeer. Soos wat ons lewens verander het, het ons behoeftes in ‘n motorvoertuig ook verander. ‘n Gewone familie sedan voldoen nie meer aan al ons behoeftes nie. Daar is ‘n voorkeurverskuiwing na sportnutsvoertuie, sogenaamde SNV’s, wat die kinders (en hul maats) se sporttoerusting kan laai, inkopies kan akkommodeer en ook oor naweke die fietse / kayakke / tente en koelbokse kan laai. Iets soos ‘n Toyota Fortuner!
‘n Fortuner is egter nie binne menige jong gesinne se finansiële bereik nie. Dit het ‘n gaping in die mark gelos vir B-Segment Sportnutsvoertuie. ‘n Gaping wat iets soos die gewilde Renault Duster goed vul en waar Toyota tot onlangs geen produk gehad het nie. Nou bied die Toyota stal die nuwe Toyota Rush.
Met die eerste oogopslag kan jy sommer sien die Rush staan hoog in sy stewels. Dis nou wel nie ‘n hardebaard viertrek met dinge soos ewenaarslotte en terrein modusse nie, die Rush bied net agterwielaandrywing, maar Toyota het seker gemaak hy oortref waar dit tel. Pakspasie byvoorbeeld is enorm. Oorsee is die Rush as sewe-sitplekker beskikbaar, maar nie hier nie. In Suid Afrika is daardie hele area laairuimte en dis enorm, ‘n hele 609 liter. Persoonlik het ek gehou van die keuse van swart materiaal vir die binneruim, prakties en duursaam.
Ook wat toerusting betref oortref die Toyota Rush verwagtinge. Daar is elektries verstelbare en voubare deurspieëls, ligdiode-kopligte wat outomaties aan en af kan skakel en misligte. ‘n Raakskerm-klankstelsel met ses luidsprekers bied ingeboude satellietnavigasie terwyl die Android Auto Plus Show-, Miracast- en CarPlay (wat is dit als?) vir die kinders belangrik sal wees. Dubbelsone-klimaatbeheer hou almal in die voertuig gemaklik terwyl twee 12V-kragsokke (een vir die agterste insittendes) batterye gelaai kan hou. Daar is ’n ingeboude truratkamera en parkeerhulp, ’n sleutellose stelsel met ’n toegangskakelaar aan die deurhandvatsel en aansitterknop.
Die teikenmark is die aktiewe familie. Mense wat vakansies na Namibia ry, of ten minste die naaste kampterrein. Grondvry hoogte is belangrik en hier bied die Rush 220mm, beste in segment. En as dit absoluut moet, sal die Rush deur water van 600mm kan ry. Veiligheid is egter ook ‘n prioriteit en ook hier het Toyota nie afgeskeep nie. Omvattende veiligheidseienskappe sluit in voertuigstabiliteitsbeheer, sluitweerremme, opdraande-wegtrekhulp en nie minder nie as ses lugsakke. ’n Alarm en immobiliseerder sowel as outomatiese sluiting wat by die aansitterstelsel aansluit, beheer toegang tot die voertuig.
Die Rush is Toyota se toetrede tot ‘n segment waar daar baie aksie is. Ander fabrikate bied sterk kompetisie met modelreekse wat al gevestig en meer verfynd is en uitgebreide keuses bied. Met die Rush is daar tans net agterwielaandrywing, een petrolenjin en die keuse tussen handrat en outomaties. Maar die spesifikasievlak is hoog, die handelsmerk is een wat Suid- Afrikaners vertrou en die uitgebreide handelaarsnetwerk beteken dat selfs as jy in afgeleë aankom, daar waarskynlik ‘n handelaar genaamd “Afgeleë Toyota” sal wees.
Wat meer is, al die bogenoemde spesifikasie is standaard ingesluit by die prys. Al wat jy moet besluit, is of die koppeling tussen jou 1,5 liter viersilinder-enjin (77kW / 136Nm) en die agterwiele geskied deur ’n vyfgang-handratkas of outomatiese viergangtransmissie. Dis dit. O, en natuurlik die kleur. Kopers het ’n keuse van vyf rompkleure: Tusk White, Quicksilver, Ruby Metallic, Liquid Bronze Metallic en Graphite Black.
Toyota se Rush mag die intreevlakmotor wees vir jou toetrede tot die sportnutswêreld, maar ‘n afskeepmotor is dit gewis nie. Ons hou van die feit dat jy alles, letterlik alles, op die koop toe kry. En dit vir onder R300 000. Die Rush sal in die smaak van die nuwerwetse stedelike avonturier val en families bemoedig om hul eie avonture te begin.
Pryse is as volg:
Rush 1.5 AT – R 313 500
Rush 1.5 MT – R299 900
