Wilhelm de Wet
Die ou mense was inderdaad wys. Om te trou of nie te trou nie het verskeie gevolge. ‘n Gegewe perd, soos ‘n vooruitstaande welvarende voornemende huweliksmaat, moet nie in die bek gekyk word nie, maar met die verkeerde besluite saal jy dalk ʼn wilde perd op. Besluit dus baie versigtig oor die wenslikheid van trou, en indien wel positief, oor die korrekte huweliksbedeling.
BINNE GEMEENSKAP VAN GOED
Volgens hierdie stelsel vorm beide gades een gesamentlike vermengde boedel waarkragtens alles wat jy het, of nog mag verkry, deel vorm van die gesamentlike boedel waarin jy ʼn onverdeelde halwe aandeel besit. By egskeiding is jy geregtig op die helfte van die waarde van die boedel, wat aan jou in bates of betaling oorgedra moet word. Indien jy nie ʼn huweliksvoorwaardekontrak sluit nie word jy geag binne gemeenskap van goed getroud te wees. Die stelsel bied geen beskerming teen skuldeisers nie en kan daar vir skuld wat aangegaan word op die gemeenskaplike boedel beslag gelê word.
BUITE GEMEENSKAP VAN GOED
Kragtens hierdie bedeling word daar ʼn ooreenkoms aangegaan waarin bepaal word dat elke gade sy/haar eie bates en laste behou by die aangaan van die huwelik, en ook wat tydens die huwelik verkry word. Elke gade behou dus sy/haar eie boedel, en is by egskeiding geregtig daarop. Beskerming word gebied teen skuldeisers, deurdat hul slegs op die gade wat skuld aangegaan het se boedel beslag kan lê.
BUITE GEMEENSKAP VAN GOED MET AANWASBEDELING
Kragtens die bedeling behou elke gade sy/haar aparte boedel soos by datum van huweliksluiting, maar daarna word alle bates wat verkry word (en ook alle laste) gelykop verdeel by egskeiding.
Ter voorbeeld het Jannie geen bates by huweliksluiting nie en het dus ʼn nul balans. Sannie het egter ʼn miljoen rand dus ʼn miljoen balans.
Tydens die huwelik bou hulle elkeen in hulle eie boedels bates op wat gesamentlik 5 miljoen werd is nadat alle skulde afgetrek is. Sannie kry dan eers haar miljoen rand terug en die 4 miljoen wat oorbly genaamd die aanwas word gelykop gedeel en elkeen kry 2 miljoen. Sannie eindig dus op met 3 miljoen.
Die bedeling bied beskerming teen skuldeisers, deurdat hul slegs op die gade wat skuld gemaak het se boedel kan beslag lê, en nie aanspraak het op die aanwas nie.
SAAMLEEFVERHOUDING
Saamleefverhoudings word al meer algemeen in die moderne tyd. Ongeag wat sekere persone dink word die verhouding nie in ons reg erken nie. Geen onderhoudseis of outomatiese reg om te erf vloei voort uit die verhouding nie. Indien daar egter bewys kan word dat die verhouding ʼn soort vennootskap is, waar beide persone hul goed saamvoeg en saam beoog om die verhouding finansieel te bevorder, kan daar moontlike eise erken word.
Dit is egter essensieel dat persone wat besluit om saam te bly en nie te trou nie, wel ‘n ooreenkoms moet aangaan ten einde kwessies soos gedeelde eiendom, versekeringspolisse, en ook regte van kinders wat uit die verhouding gebore word te reguleer.
SLOTSOM
Alhoewel trou of saamleef meestal gebaseer is op ʼn emosionele besluit, is dit nodig om objektief ook na die besluit te kyk as ʼn tipe besigheidstransaksie wat nugter aangegaan moet word. As jy of jou voornemende gade voel dat die regulering van die huwelik nie nodig is nie, moet die onverskillige perd onmiddellik op stywe toom gehou word en soms in die bek geruk word.
Gaan spreek ‘n prokureur oor die regte advies en opstel van die nodige huweliks/ saamleef kontrak.