23 C
Mossel Bay
1st December 2023
Community & LivingTourism & Travel

VAKANSIES DEUR DIE EEUE!

Soos alles anders in die lewe, het vakansies ook ’n geskiedenis. Thomas Cook (Engeland) het feitlik man-alleen die reisbedryf begin toe hy een van die eerste reisagentskappe op die been gebring en byna ’n kwart eeu lank sonder veel mededingers handel gedryf het. Dit het gevolg na sy eerste vakansiegroep in 1845. Buitelandse toere het ’n dekade later gevolg en in 1862 het Cook die reisreëlings getref vir die wêreld se eerste pakkettoer. Passasiers het nou een bedrag betaal, wat akkommodasie, maaltye en reisgeld ingesluit het.

In 1898 was Cook die mede-organiseerder van die eerste bustoer, maar intussen het ’n nuwe soort vakansieganger die paaie getref. In 1885 het dr. Stables van Engeland die Wanderer laat bou – die eerste karavaan wat vir vakansies eerder as leefruimte vervaardig is. Stables het meer as 2 000 km in Brittanje afgelê en later ’n boek oor sy reis geskryf: The Cruise of the Land Yacht Wanderer. Dr. EE Lehwess van Duitsland, eienaar van die eerste motorkaravaan, Passe Partout, wou die eerste mens word wat om die wêreld ry. Hy het wel oor Europa gery, maar sy planne is verydel toe hy sy voertuig in ’n sneeustorm in Rusland moes agterlaat.

Vir Cook was reis leersaam en ’n vorm van opvoeding eerder as pure genot en dit was ook die geval met die eerste gesondheidskamp. J Fletcher-Dodd van Engeland het Dodd’s Socialist Holiday Camp in 1906 geopen met georganiseerde oefening- en sportsessies, gevolg deur lesings saans oor die gesondheid van die gees. Maaltye is met ’n beuel aangekondig en mense is huis toe gestuur as hulle na 11h00 saans luidrugtig was. Hulle is beboet vir onnetheid. In 1920 word die eerste amptelike nudistekamp deur Frei-Sonnenland geopen by Motzener See in Duitsland.

In Mei 1932 het die eerste lugvakansietoergroep met Imperial Airways vanaf die Croydon-lughawe in Engeland na Basel in Switserland vertrek. Teen die einde van die jaar het die Polytechnic Touring Association bykans ’n 1 000 toeriste na Europa geneem – sonder dat die geringste gedragsprobleme ondervind is. Vandag sien dinge baie anders daar uit.

Soos die geval vandag is, was Durban ’n eeu gelede ook ’n gunstelingvakansieplek vir Suid-Afrikaners, veral vir die middelklasinwoners van die destydse Transvaal se plattelandse myngemeenskappe. Kusvakansies het hul eerste groot hupstoot in 1891 gekry toe die spoorlyn van Durban na Newcastle gebou is, wat binne maklike ry-afstand van Johannesburg was. Vier jaar later is die spoorlyn voltooi en Transvalers het in groot getalle aan die Natalse kus gaan vakansie hou.  

Die treinreis het 27 uur geneem en minstens ’n dekade lank was dit nie maklik vir vakansiegangers nie – Durban was warm en bedompig, die strande sonder fasiliteite, daar was net hier en daar teekamers en ’n paar hotelle, waaronder die Royal, en baaitente op die strand.

Die beroemde Goue Myl het in 1907 gestalte begin kry en Durban het bekendheid begin verwerf as die “beste swemstrand in die wêreld”.

Kaapstad het ’n rustiger begin gehad, hoewel dit lank voor die vroeë 1900s reeds baie gewild was as vakansiebestemming. Rudyard Kipling en Cecil John Rhodes was byvoorbeeld gaande oor die Valsbaaikus.

Ander gunsteling-vakansieplekke vir die rykes was Caledon met sy helende warm waters, wat sedert die dorp se stigting in 1709 geniet is en teen die vroeë 1900s getel het as een van die suidelike halfrond se gewildste spa’s. Daar was swembaddens, ’n sanatorium en ’n goeie hotel. Net so gewild was Matjiesfontein wat in die 1880s in die Karoo gebou is as ’n droëlug-oord vir rykes met tuberkulose. Vername besoekers sluit in Olive Schreiner, Churchill en die sultan van Zanzibar. Matjiesfontein was die eerste dorp in SA met elektrisiteit en spoelriolering.   

Die Suid-Afirkaanse wildernis het vakansiegangers begin lok toe die Krugerwildtuin in 1926 amptelik aangewys is as die land se eerste nasionale park. Besoekers het hul vuurwapens saamgebring en hul tente in die ongerepte veld opgeslaan.

Motors is eers in die laat 1920s en 1930s as deel van vakansies ingespan. Voor daardie tyd was die paaie gewoon te sleg vir gesinsmotors, en byna almal het per trein gereis.

In die era tussen die twee wêreldoorloë het karavane besonder gewild geword. Een van die modelle in 1927, die sogenaamde “padseilboot”, het met allerlei ekstras gespog soos ’n kombuis met krag, ’n storthokkie en ’n grammofoon- en radiokompartement.

Die Boek van Eerstes, saamgestel deur I Harrison & P Joyce

Related posts

DOORNHOEK: HISTORIC STAY IN A NATIONAL PARK

Mariëlle Renssen

8 HABITS THAT CAN HURT YOUR MEMORY

Kayla Matthews

Boek Resensie – RETOER

Annlerie van Rooyen

‘TIS THE SEASON FOR CYCLING

Mariëlle Renssen

Dis Mariene Maand!

Wilhelm de Wet

’N TUIN VOL VOËLS!

Christaan Viljoen