17.3 C
Mossel Bay
29th November 2023
Community & LivingCrafts and hobbiesGardeningGeneral knowledgeNature & Nurture

VAN GIVERNY TOT GROOT-BRAK

Met die koms van die lente draai die bekende skilder, Claude Monet, se woorde “I must have flowers, always, and always” gereeld in my kop. Afgesien van Monet se lewensgroot waterlelieskilderye is hy ook bekend vir sy uitsonderlike tuin in Giverny, Frankryk. Hier het hy vir meer as 40 jaar gebly, geskilder en duisende blomme aangeplant. As meester-impressionis het hy ook kleur en komposisie gebruik om sy tuin uit te lê. Sy tuin was sy grootste bron van inspirasie en hy het gereeld gesê, “I perhaps owe my becoming a painter to flowers”.

’n Tuin en veral ’n blomtuin maak ’n mens meer bewus van die subtiele, maar magiese veranderinge in die natuur soos die son skuif, die wind draai en die reën val. Mense is met goeie rede nou maar eenmaal mal oor die lente en die uitloop van bloeisels, blomme en nuwe groen. Dié tyd van die jaar is my blombeddings vol ragfyn poppies, helder ranonkels, langsteel-anemone en vrolike, rankende pronkertjies. Maar my gunsteling-lenteblom is sonder twyfel pronkertjies! O, die nostalgie! Die ongekunstelde, kleurryke, outydse blommetjies neem my keer op keer terug na my ma en ouma se blomtuine. Van my kosbaarste herinneringe is die varsgeplukte bossies op die kombuistafel of langs my bed – met soveel liefde neergesit – en die sagte lentereuk orals in die huis.

Die somer sukkel mos om sy vatplek te kry hier in die Suid-Kaap en ons lente is ekstra lank. Dit beteken egter dat ons maande lank die ideale vogtige en koel klimaat vir oordadige pronkertjies het. Sedert 1724, lank voor die Searle-boeties hulle kom tuis maak het in hierdie omgewing, was pronkertjies (Lathyrus odoratus) se saad kommersieel beskikbaar in Engeland. Sekerlik het tannie Searle ’n handvol pronkertjiesaad so saam met haar orgideë in ’n koffer hierheen karwei?

My werksdag begin vroegoggend wanneer die sonsopkoms die horison oor Hersham se bult ligpienk kleur. ’n Warm koffie verdring die slaapwaas sommer gou en my eerste stappie deur die blombeddings terwyl die son begin strepe trek oor die rivier se stil water is vol vrede. Soms laat die draaiende visarend se roep my opkyk en dwing ’n oomblik van genoegsame asemskep af. Lente is hier in Groot-Brakrivier … en die pronkertjies geil!

Related posts

CAN I USE A DRONE TO TAKE PHOTOS?

Herman Swanepoel

WHERE DO WORDS GO?

DR. PASCALE MICHELON

“To plant a garden is to believe in tomorrow.”

Jenaide Chippe

CONSENT AND POPIA: WHAT YOU SHOULD KNOW

Herman Swanepoel

Ontmoet Jonkersberg se mense

Laurinda Smit

Oil Rigs are becoming Marine Skyscrapers

Wendy Wiles