Die Web Ellis Trofee is terug en die Springbokke bring ‘n gevoel van geluk en eenheid wat selde deur soveel van ons almal gedeel word. Ons is almal trots op ons Suid- Afrikaanse nasie!
Maar sommige mense waarsku dat dit nie ‘n verdowingsmiddel is wat hulle psige en sienings gaan verander nie. Dis asof daar ‘n beroep gedoen word op ons gewone mense op straat om eerder te oordeel en te wantrou. Om iemand wat anders as jy is, anders te hanteer.
Soms is dit tyd om weer na ons eie Grondwet te kyk, wat ons as Suid-Afrikaners se basiese regte omvat. Die reg tot menswaardigheid en die reg op vryheid en sekuriteit. Die verbod op diskriminasie op grond van kleur, geloof, oriëntering, geslag, kultuur, taal, afkoms, fisiese ingeperktheid, en vryheid van spraak.
Vryheid van spraak. Die reg om te sê wat jy wil en wanneer jy wil. Onbeskroomd eerlik. Ongeag wie seergemaak word of wie daaronder ly. Niemand se reg tot spraak is egter onbeperk nie, en het ‘n dun lyntjie waarop die oorskryding daarvan balanseer.
Haatspraak is soos bekend verbied in Suid- Afrika in terme van die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie Wet van 2000.
Haatspraak word beskryf as woorde, gedrag, kommunikasie of vertonings wat geweld of vooroordeel teen ‘n sekere groep aanwakker.
Die Gelykheidshof en Konstitusionele hof moet bontstaan oor waar die perk op vryheid van spraak oorskry word. Etlike voorbeelde van dergelike hofsake in die onlangse verlede getuig daarvan.
En as mens gaan stilsit en die stof gaan lê en die son sak en die Springbokke se vreugde vul weer jou menswees, dan wonder jy….
Waar kom dit alles vandaan? Is dit regtig nodig? Al hierdie hengse klomp wette en howe , net om mense te leer van ‘n basiese beginsel genaamd verdraagsaamheid?
Soms wonder mens of jy wetgewing kan omswaai deur mense se optrede nie te verbied met wetgewing nie, maar eerder ’n opdrag te gee van naasteliefde, respek, empatie en verdraagsaamheid.
Dan dink jy dalk veral oor Kerstyd dat jy iewers al hierdie opdrag gehoor het.