17.3 C
Mossel Bay
29th November 2023
Community & LivingNews

VERLORE TITELAKTES – HOE NOU GEMAAK?

Met die registrasie van onroerende eiendom in jou naam by die aktekantoor word daar ’n nuwe titelakte uitgereik wat dien as bevestiging dat jy die onweerlegbare eienaar van die eiendom is. Die oorspronklike akte moet of in jou besit of by die verbandhouers (soos ’n bank) wees indien daar ’n verband oor die eiendom geregistreer is.

Dit gebeur dikwels dat die eienaar of verbandhouer die titelakte verloor of misplaas wat tot gevolg bring dat daar nie met die eiendom gehandel kan word nie. Gelukkig maak Regulasie 68(1) van die Registrasie van Aktes Wet voorsiening hiervoor en kan daar by die aktekantoor aansoek gedoen word vir ’n vervangende akte (“VA”), ’n gewaarmerkte afskrif wat dan die oorspronklike akte vervang.

Tot onlangs was die proses om ’n VA te bekom taamlik eenvoudig en vinnig. Die geregistreerde houer van die titel kon bloot ’n VA-aansoek teken wat dan by die aktekantoor ingedien is ten einde ’n VA te kry. Die proses is egter sedert Januarie 2019 deur die Wetgewer gewysig en is dit nou meer tydsaam en duur as voor die wysiging.

Die proses behels kortliks die volgende:

  1. Die geregistreerde houer van die titelakte moet ’n aansoek teken vir ’n vervangende akte wat deur die transportbesorger opgetrek word.
  2. Die getekende aansoek word dan gebruik om ’n aktekantoor-afskrif van die akte aan te vra. Dit kan enigiets van ’n paar dae tot ’n paar weke neem afhangende van die omstandighede.
  3. Wanneer voormelde afskrif uitgereik word, moet daar geadverteer word in ’n plaaslike koerant, wat in die area waar die eiendom geleë is, sirkuleer. Hierdie advertensie dien as kennisgewing dat die houer van die titelakte van voorneme is om aansoek te doen vir ’n VA en dat daar ’n afskrif van die titelakte by die relevante aktekantoor lê. Voormelde afskrif moet vir twee weke vanaf datum van publisering vir inspeksie deur die publiek blootlê.
  4. Indien niemand binne die tydperk van twee weke beswaar aanteken nie, kan daar voortgegaan word om die aansoek in te dien by die aktekantoor ten einde ’n VA te kry.

Die VA-aansoek kan gelukkig saam met ’n skakelende transport en/of verband by die aktekantoor ingedien word. Dit is dus nie nodig om eers die VA te kry voordat daar met die transaksie voortgegaan kan word nie. Indien daar ’n verband oor die eiendom geregistreer is, moet die verbandhouer ook tot die uitreik van ’n VA toestem. Dit is laastens belangrik om te onthou dat die oorspronklike akte nie weer gebruik kan word nadat die VA deur die aktekantoor uitgereik is nie. Daar sal ’n endossement teen die eiendom in die aktekantoor genoteer word wat na ’n VA verwys wanneer ’n VA uitgereik is. 

Related posts

KOM DOEN IETS MERKWAARDIG – SKENK BLOED!

Annlerie van Rooyen

GOOD NEWS ABOUT THE BRAIN OF AN ELDERLY PERSON

Deemag clinic

LIGHT PAINTING USING THE NIGHT AS A CANVAS

Nisha Desai

VAN GIVERNY TOT GROOT-BRAK

Linda Meyer

BLUEBOTTLES (PORTUGUESE MAN O’WAR)

Trudie Pienaar

Is jy seker jou besigheid is “GESOND”?

Rauch Gertenbach Attorneys