16 C
Mossel Bay
3rd Oct 2023
Community & Living

VERSAMELAARS EN OPGAARDERS

Na meer as twee maande van ongekende, onbeperkte en dikwels onverstaanvare inperking, kom almal wat hul lus vir ’n doppie so lank moes inhou, by die drankwinkels aan. Dit was soos die begin van ’n nuwe era wat vir die mense van Suid-Afrika aangebreek het! Kyk, jy kry jou versamelaars in die lewe, mense wat poppe, sagte speelgoed, vuurhoutjiedosies of goeie wyn, whiskey, vodka of ander artikels versamel en dan kry jy ook jou opgaarders. Jou versamelaar het ’n missie en ’n visie asook ’n passie. Hulle wil voorsiening maak vir die toekoms, maar dit gaan eintlik meer oor wat hulle het om te wys of te vertoon. Dit gaan oor die hoeveelheid en spesiale kenmerke van hul versameling – die gehalte, eienskappe, verkrygbaarheid, ens. ’n Opgaarder is weer die tipe mens wat so baie dinge bymekaarmaak dat hy later nie meer weet wat hy alles het nie, nie seker is hoekom hy dit het of vir hoe lank hy dit al het nie en ook nie altyd seker is hoeveel hy het nie. Jou versamelaar sou vir jou aan die einde van vlak vier nog ’n lekker glasie wyn kon skink en jou ook kon inlig oor die kultivar, die oesjaar en nog ’n paar eienskappe.

Die meeste mense wat op 1 Junie 2020 in ’n tou gestaan het om iets by die drankwinkel te koop, kan as opgaarders beskou word. Hulle het altyd ’n ou ietsie in die kas of yskas (of klerekas of een of ander geheime plek), maar is nie altyd seker waar-die-ietsie is en of daar hoeganaamd nog van daardie “ietsie” is nie! Ek wil nou nie skynheilig klink nie, want glo my, ek is ook lief vir ’n ou wyntjie, maar ek het nog altyd effens ongemaklik in ’n drankwinkel gevoel. ’n Supermark werk beter vir my! Dis meer anoniem. Dis amper asof ek bang is ek loop in my dominee of diaken vas in ’n drankwinkel. Die klante in ’n drankwinkel gee my ook lelike gedagtes … ek wonder te veel oor hulle. 

Die ding is, die deure van drankwinkels was skaars oopgesluit of berigte verskyn van traumagevalle wat by Kaapstadse hospitale verdubbel het. Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement bevestig ook dat die meeste traumagevalle by hospitale vanaf 1 Junie alkoholverwant is.

Ek wonder hoe het dit hier in ons omgewing gegaan. Drank is maar ’n “bogger”. Versamelaars en opgaarders? Daar is ’n verskil, maar dis seker nie die punt nie …

Related posts

Fragrance Fest blossoms

Nelma Ruschioni

SKATTE VIR JOU HARTSKAMER

Laurinda Smit

BUYING SOME ART?

Maura St John

GEELBEKVLEI BIRDING DRIVE

Christaan Viljoen

Jy het besluit jy wil jou huis verkoop – Wat nou?

Mona de Wet

Pinky the Flamingo

Scott Thomson